Daai geluid. Daardie fokken geluid. Ek haat dit as my wekker een of ander early bird is wat vroeg grassny op ‘n saterdag oggend. Welkom terug in Oudtshoorn. Besef hierdie oom nie dis KKNK en party van ons het gisteraand ons plig gedoen en gaan drink nie? Dis my eertse dag by die huis en dit klink of ‘n motorfiets rond jaag in my brein, en dis nou nie net die brandewyn se skuld nie. Al is die gedruis ‘n entjie weg, voel dit of hierdie persoon besig is om die mat onder my bed te verwyder met sy wheat eater. Party mense werk mos hulself Maandag tot Vrydag moer toe net om saterdae weer te werk. Dis die lewe waarna al ons jong mense kan uitsien. Te lekker.
So onaangenaam soos wat hierdie is, is dit glad nie iets vreemd nie. Dis hoe ek as kind meeste Saterdae wakker geraak het. Partykeer was dit my eie vader wat onder my eie kamervenster die rante getrim het. Ek het altyd gedink dis baie ongeskik van die omies om so vroeg op naweke te raas. Dis die enigste dag van die week wat ek kon laat slaap aangesien my ma my Sondae uit die bed gejaag het kerk toe. In hulle oë is ek die weird ene wat tot 11h wil lê. Laat slaap is amper erger as rond slaap op die platteland. As die son op is, moet jy ook wees. Die plek verander ook nooit nie, maar dis hoekom ek daarvan hou.
‘n Eenvoudige geluid kan jou laat terug dink aan baie goed uit die verlede. Op skool het my ma elke oggend die radio harder gesit sodat ek kan wakker word van RSG se nuusdeuntjie. Dit was die aakligste wysie in die wêreld. Sy het dit seker ook gehaat, maar dit was al wat my uit die bed uit kon kry. Weeksdae as jy die Egoli liedjie hoor dan weet jy dis tyd vir open time se sitcoms. Ek het dit nooit gemis nie. Al was dit that 70’s show , The Simpsons of Malcolm in the middle, 18:30 was my tyd voor die televisie. Dan, die ergste televisie tune ooit, die Carte Blanche song. Elke Sondagaand het daardie melodie jou herinner jou naweek het net ‘n M-Net fliek oor, dan is dit verby, Maandag wag vir jou. Ruda Landman en Dereck Watts het ‘n countdown begin tot ons vryheid opraak. Lae bliksems. Deesdae is dit net die Egoli liedjie wat jy nie meer hier kan hoor nie. Ek kan nie besluit of ek hierdie goed mis of nie.
Die bure se gras is nogsteeds nie klaar gesny nie so ek staan maar op en gaan maak vir my koffie. Ons kombuis verander ook nooit nie en meeste van die goed daarin is ouer as ek. Die microwave, stoof, yskas en wie weet wat nog was trougeskenke aan my ouers destyds, en ek is amper seker daarvan hulle het getrou vóór Mandela tronk toe was. My ma sal nooit iets nuut koop as die ou een nog werk nie. Ons yskasliggie het laas gewerk toe ek in Sub.A was, maar die kaas bly darm koud. Soos julle kan indink het ons kombuis ‘n sterk bruin en oranje tema. Glad nie tydloos nie, dink ek soos ek my koffie roer. Blommetjie patrone op byna alles.
Die platteland is nou nie almal se happie koek nie, maar ek is verskriklik dankbaar dat ek hier groot geraak het. My broer het my al baie dinge geleer (soos ‘n ouer broer moet), en kan goed onthou wat hy vir my eendag gesê het in my eerste jaar op Stellenbosch: “Mense wat van die Platteland af kom het ‘n voordeel bo die wat van die stad af kom”. Ek het dit nooit verstaan nie, maar deesdae maak dit sin. Van binne die huis hoor ek rugbygeluide, dit bevestig dat dit Saterdag is. Ek vat my koffie en die koerant en loop by die kombuisdeur uit.
My gunsteling plek in die wêreld is sonder twyfel die agterplaas van my ouerhuis. Botha Straat 35, Oudtshoorn. Dis nou nie die coolste backyard in die wêreld nie, maar dis ons s’n en niemand kan jou daar pla nie. In plaas van ‘n swembad of ‘n oulike stoep is daar ‘n naartjie boom en ‘n kompos hoop. Ja ‘n kompos hoop. My pa hou baie van tuin maak en ordentlike grond is skaars in die Karoo. Die grasperk lyk altyd mooi en dis ‘n perfekte plek om koerant te lees in die oggende. Veral in die winter, dan sit ek altyd in die Karooson en bak soos ‘n akkedis op ‘n klip.
Die bure se gras is nou darm klaar gesny. Vrede. Agter ons erf is daar landbougrond wat ons buurman besit. Al wat sy volstruise, skape, ganse (of wat ook al die dier van die week is) weg hou van ons naartjies is ‘n eenvoudige ogiesdraad wat net hoog genoeg is sodat jy nie daaroor kan spring nie. As jy teen hierdie ogiesdraad staan en uitkyk oor die wêreld word jy nogals bederf. Dis ‘n mooi uitsig en in die verte lê die Swartberge wat altyd ‘n ogie hou oor die Klein Karoo. Alles is stil, niks geluide nie, hier kan ek dink. Mens se brein werk beter sonder nie konstante klanke van die samelewing wat jou gedurig herinner dat jou tyd op hierdie planeet is besig om uit te loop.
Volstruise agter ons agterplaas |
Hierdie klein eenvoudige stukkie wêreld was nog altyd vir my ‘n plek waarheen ek kon ontsnap. Dit het vir my ‘n wegkruipplek gebied van al die dinge wat my pla, ontstel of irriteer. Ek onthou toe ek baie klein was het ek êrens in die huis kak aangejaag en my pa het my gevang. Hy was briesend en hy wou my bykom. Gelukkig is my pa vet so dit is nogals maklik om van hom weg te kom. Ek het so vinnig soos wat ek kon weg gehardloop en agter die naartjieboom gaan wegkruip. Hy het my nie gekry nie, of hy wou nie, ek is nie heeltemal seker nie. Die naartjieboom het my ‘n kans gebied om te wag tot my pa afkoel, dan sou ek terug gaan huis toe en in plaas van ‘n pakslae het ek net ‘n ongemaklike preek gekry. Dit het elke keer gewerk.
Die enigste probleem met hierdie wegkruipplek was, dit het ‘n gewoonte raak. Elke keer as iets my gepla het, het ek in ons agterplaas gaan ontspan met ‘n koppie koffie. Soms as die “akademie” in Stellenosch te veel geraak het was dit net te maklik om vir ‘n naweek Oudtshoorn toe te gaan. Toe ek nog in Kaapstad gebly het en my geld op was na ‘n groot naweek het ek vinnig ‘n lift gerëel huis toe. Gerieflik is ‘n goeie woord om nou te gebruik. Ek het ‘n wegkruipplek gehad, en ek het gou agter gekom hoe hartseer dit is. Iets moes verander. Ek kan nou nie vir jou sê dis die rede hoekom ek besluit het om Pretoria toe te trek nie, maar die het bygedra tot daardie groot keuse. ‘n Verandering was nodig.
Vroeg in my lewe het ek al besef dat ek nie van verandering hou nie. Daar is iets wat my gemaklik maak as ek die toekoms kan voorspel, en in Oudtshoorn is dit nie baie moeilik nie. Die dorp verander ook maar selde. As ‘n pad hier oorgeteer word is dit ‘n groot ding, tot die dominee noem dit in sy gebed. Die mense hier verander ook nooit nie, hulle almal is so voorspelbaar soos die alfabet. Dis hoekom dit so uiters belangrik ir elke kind is om die dorp te verlaat na skool. In hierdie woestyn is dit nie net plante wat sukkel om te groei nie, maar lewenservaring ook.
Pretoria bied by my ‘n kans om verandering te omhels en dit te bevriend. Dit is nie te maklik nie. Hierdie is die derde stad waar ek bly vanaf ek destyds Oudtshoorn verlaat het. In elkeen van hierdie plekke was die mense die grootste aanpassing. Lank terug het ek al vrede gemaak met die feit dat ek nooit eendag myself in die platteland gaan vestig nie, tog alles wat ek in die Karoo geleer het probeer ek elke dag saam met my dra. Dis die klein goedjies wat saak maak. Jy kan baie tekortkominge vind as jy die Oudtshoorn mense goed bestudeer, maar jy kan nie iets sleg van hulle sê nie. As hulle vroeg die oggend die gras sny is dit dalk irriterend, maar as jy mooi vra sal hulle dalk jou help met jou gras ook. Aangesien jy in die platteland almal moet ken, moet jy ‘n aangename mens wees, of jy nou wil of nie. In ‘n stad is dit soms net te maklik om te wees wie jy wil, te overdwyn en elke dag te verander.
Ek was al in fancy uitgaanplekke in Kampsbaai waar cocktails meer as ‘n Vuka scooter kos. Ek was al in Klub Perd by Oudtshoorn se skougronde waar die barman saam my broer in die laerskool was. Een ding het ek al geleer: die coolste katte bly tussen die vullis. Maak nie saak wie of wat jy is nie, solank jy ‘asseblief’ en ‘dankie’ sê sal jy oraait wees. Mense daar buite besef nie dat die lewe sal nooit ophou om ‘n gejaag na morê te wees nie, so jy kan net sowel vriendelik wees met die ou langs jou. Parykeer moet jy stop, jou koffie geniet en na die berge kyk. Dis dalk omdat hier nooit enige iets gebeur nie, maar in die platteland geniet jy die oomblik. Dit hou die siel gesond. In Oudtshoorn kry jy mens-mense. Sout van die aarde. Dis dalk hoekom die Karoo so droog is. En dit sal nooit verander nie.
My koffie is klaar en ek stap die kombuis binne. Die kos ruik lekker, dis goed. Brandewyn maak mens honger. Ek weet presies wat my ma maak vir ete, want sy verander nooit haar roetine nie. Donderdag gaan sy hoender maak, soos sy seker al die afgelope 20 jaar doen. Die mooi aanhaling sê: “verandering is net so goed is soos ‘n vakansie”. Ek hoef nie te verander nie, ek vat net ‘n vakansie Oudtshoorn toe, want dis net so goed.