Monday, 12 November 2012

Bring jou eie vleis

My broer sê altyd dat elke Afrikaanse oom ‘n groot pens moet hê. Hy voel dit is tradisie. Nie omdat ons van die “PT broekie en pens”- look hou nie, maar omdat dit maar net is hoe ons is. Eintlik wil niemand ‘n maag rond dra nie, maar die meerderheid van ons volk se mans het nie ‘n keuse nie. Of daardie pens nou ontstaan het deur te veel bier, brandewyn, ongesonde kos of swak gene, my broer het tot die gevolgtrekking gekom dat dit onvermydelik is. Sodra ons oor die spreekwoordelike muur is, gaan ons moet belê in groter broeke en langer belde. Vir te lank het ek met hom hieroor gestry, sy toekomsvoorspelling afgelag. Soos ek ouer raak ontwikkel ek ‘n persoonlike vrees vir hierdie pens. Kom ons wees gou eerlik met mekaar: meeste van ons pa’s lyk of hulle al sewe weke dragtig is, en as jy na hulle universiteits foto’s kyk, lyk dit of hulle almal Springbok gimnaste was. Waar het dinge skeef geloop? Hoe verander ‘n skraal seun in ‘n XL-draende man? Ek weier om eendag oorgwig te wees, al is dit in my bloed. 
Die probleem is ons Afrikaners het te veel plesiertjies in die lewe, en ons kan dit nie afskud nie. Dis die klein goedjies wat ons laat beter voel as ons die dag afgepis is. ‘n Vinnige bier met ‘n kollega word gou ses draughts by die Dros oorkant die straat. ‘n Vinnige happie biltong word skielik ‘n halwe kilo van die vetterigste, natste, lekkerste beesvleis die kant van die Vaalrivier. En dan is daar elke Afrikaner se kryptonite: braaivleis. Dis so lekker tot die Engelse mense probeer dit al. Wie kan die aroma van ‘n skaaptjop weerstaan? Wie kan nie opgewonde raak oor ‘n braaibroodjie wat se kaas lekker pap gesmelt is nie? Wie kan nee sê vir ‘n 500g T-bone wat die mooiste pienk binnekant het? As ek ooit eendag ‘n lid van die boepens klub is sal dit wees omdat my vrou my toelaat om meer as twee keer ’n week te braai. Daar is min goed wat my so gelukkig maak soos ‘n vleisie wat oor rooi kole ge-tan word. Dit ruik soos naweek, klink soos vakansie en proe soos die hemel, met Jimmy sous op.
My vader en sy pens, besig om 'n skaapboud te braai
 Vandag is ek oppad na die Noorde van Pretoria. ‘n Onebekende gebied, anderkant die berg. Willem, ‘n vriend wat ek vroër die jaar ontmoet het, het my genooi om by sy huis te kom braai. Dit is nie vir my moontlik om vir ‘n braai nee te sê nie, al is dit ver. Sy boodskap was eenvoudig: “Bring net vir jou iets om te eet en ‘n drink dingetjie, verder hoef jy nie te worry nie”. Haastig ry ek na die naaste slaghuis en kies ‘n lekker vet Rump-steak wat ek teen ‘n billike prys aanskaf. Ons Karoo mense hou van skaapvleis, maar in Gauteng is dit nie eintlik ‘n opsie vir iemand wat in my finansiële situasie is nie. Gelukkig is vleis is altyd lekker, al is dit hadeda. Vandag het ek net een doel: om myself heeltemal te vervreet, want ek glo dit is wat jy op Sondae moet doen. My Biologie onderwyser op skool het altyd gesê dat sondaemiddae baie lekker is tot jy na ete op die bank gaan lê en die custard begin uit jou mond uit te loop. Ek sal nie vandag teleurgesteld wees as dit met my gebeur nie. Voor ek vir die steak betaal gryp ek ‘n groot sak hout, want hierdie mense braai met charcoal en ek is jammer, dit is net nie krieket nie.
Daar is ‘n drankwinkel reg langs die slaghuis. Duidelik weet die besigheidsmanne in hierdie provinsie wat hulle doen. Drink en braai is twee aktiwiteite wat ek eintlik verkies om nie te meng nie. Net soos elke jong man hou ek van ‘n biertjie, maar ongelukkig het ek al gevind dat drank my standaarde verlaag en voor ek weer sien is ek tevrede met ‘n tjoppie wat geflamegrill is. Braai is ‘n eksklusiewe buitemuurse aktiwiteit wat ten alle tye met die nodige respek behandel moet word. Niks behalwe die beste kwaliteit is aanvaarbaar nie. Ongelukkig beïnvloed drank kwaliteit. Boonop laat die kombinasie van vleis en bier jou pens vinniger groei as ‘n plakkerskamp langs die snelweg. Vandag hou ek eerder verby die drankwinkel.
Ek stop by Appelblaarlaan 370 in Magalieskruin en ek word begroet deur ‘n groot Duitse herdershond. Dit is ‘n baie eenvoudige, gerieflike huisie sonder drastiese sekuriteit, net honde. ‘n Mens kan sien niemand se ouers bly hier nie. Willem het groot geword in die Noord-Wes en op hoërskool het sy familie Pretoria toe getrek. Hy is ‘n groot, blonde man en dit lyk of sy voorouers dalk Vikings kon gewees het. Onder sy stywe hemp berê hy ‘n aansienlike groot pens waarvoor hy glad nie skaam is nie. Dit maak my bekommerd, want hy is maar net twee jaar ouer as ek. Ek hoop net dat ek oor twee jaar nogsteeds ‘n size 30 broek kan dra, want in my kas is daar baie van hulle en niks geld vir ander nie. Ons loop na die agterstoep en hy stel my voor aan al sy vriende. Willem het heelwat mense genooi en as ek so na die tipe wyn kyk wat die mense drink is dit duidelik dat ek die enigste een hier is wat van die Wes-Kaap afkomstig is. Dis ‘n lekker Sondag bring en braai en almal is reeds baie gesellig. Jazz musiek speel in die agtergrond. Die noorde stel sover nie teleur nie
Willem
Willem se swaer, Dawid, trek die braai nader. Dis ‘n oliedrom wat middeldeur gesaag is en op ‘n staalraam vas gesweis is. Dis presies hoe ‘n braai moet lyk. Hy sleep ‘n sak Woolworths charcoal nader. Dis toe dat ek opstaan en my stem dik maak. My pa het my geleer jy moet jouself gedra by iemand anders se huis, maar hy het my ook geleer jy braai nie met daai kak nie. En met daai kak het hy na charcoal verwys. Met min moeite oortuig ek toe vir Dawid dat nie eers Woolies se charcoal beter as hout is nie. Daar is ‘n regte manier van dinge doen en dan is daar charcoal. Ek pak die hout en hy steek die blits aan. Die geluid van ‘n vuur wat kraak gemeng met die gesang van vroumense wat skinder laat my die huis mis. Ek voel tuis hier.
Na lang gesprekke oor Orkney Snork Nie, Liverpool se sokkerspan en swart mense is die hout al amper uitgebrand. Dawid kry die vleis bymekaar en ek kan nie help om hom dop te hou nie. Dit is vir enige man moeilik om te kyk hoe iemand anders jou steak braai. Dalk is dit hoe dit voel om jou kind vir die eerste keer by die kleuterskool te gaan aflaai. Jy los een van die goed waarvoor jy die liefste is in die genade van iemand anders se hande en hoop net dit kom heel terug. Ek het nog net so paar ure met my rump deurgebring, maar ek is alklaar verlief op daardie pragtige stuk vleis. Blykbaar is dit ook basiese maniere om die ou wie se huis dit is te laat braai.
So lekker soos wat die hele braai ervaring is, is daar een groot probleem met die hele sisteem. Elke man het sy eie manier van braai, sy eie bygelowe en sy eie voorkeure. Ongelukkig kan ons Afrikaner mans nie ons trots sluk en by ‘n ander man se rëels en regulasies aanpas nie. ‘n Man word gemeet aan hoe goed hy braai, dit is nou maar net so. As ek ooit eendag ‘n dogter het en een of ander knaap wil my goedkeuring hê om met haar te trou, gaan hy homself eers voor die rooster moet bewys. ‘n Kêrel wat nie kan braai is ‘n onvolledige man en hy behoort homself te skaam oor sy tekortkoming.  Dalk moes ek bier gekoop het, dan sou dit makliker gewees het om nie op die braai te fokus nie.
Dawid beter my nie teleur stel nie, vandag wil ek lekker eet, die custurd moet uit my mond uitloop. Soos hy my steak op die rooster neer plak maak die kole die lieflikste geluide. Regte braaiers kan die taal wat kole praat verstaan en ons weet hoe belangrik dit is om na die hulle te luister. Dawid draai my steak om,  heeltemal te vroeg na my smaak. Ek kan nie meer nie, nou moet ek my opinie lig. Net soos ek wil opstaan om in te meng hoor ek hoe Willem van my praat, “Nee, hy kom van die Kaap af”.
 Dadelik vergeet ek van my steak en help vir Willem reg.
“Nee ek is nie van die Kaap nie ek is van Oudtshoorn!”  
“Dis dieselfde ding” skree Willem terwyl hy ‘n Marlboro rooi aansteek
“Dit is nie! Daar is ‘n goeie 400 km tussen die twee plekke. Ek sal weet. Ek het dit al baie gery, al in die aand ook!”.
Toe ek weer sien beland ek en Willem in ‘n argument oor waar die Kaap nou eintlik begin en eindig. Hierdie Transvalers dink mos enige iets suid van Bloemfontein is die Kaap, tipies. Sy vriende val in by die gesprek in en natuurlik kies hulle sy kant. Ek vertel vir hom dat dit nie meer 1982 is nie en Upington al lankal nie meer deel van die Kaap is nie, maar hy wil niks weet nie. Hy glo nog in die “Kolonie”. Nou raak ek moerig. Hierdie braai raak nou onplesierig. Ek mag nie my eie vleis braai nie, die honde blaf heeltyd en die mense praat sleg van my provinsie. Net toe die gesprek te warm raak skree Dawid uit die hoek uit: “Die kos is reg”. Almal hou op praat, kry vir hulle borde en gaan skep van die vleis. Die spanning van die argument het verdwyn, weg soos ‘n poep in ‘n orkaan. Goeie vleis het so ‘n manier om my te laat vergeet van alles wat my irriteer.
Ek bekyk my steak van nader, inspekteer hom noukerig met my mes en vurk. Dit lyk darem of Dawid weet wat medium beteken. Ek vat die eerste hap. Die vleis smelt weg in my mond weg soos ‘n Smartie in die Karoo son. Te heerlik. Ek weet nie wat hulle vir die beeste hier bo voer nie, maar hulle moet nooit weer vir hulle iets anders gee nie. Ek kyk na Dawid. Ek wil vir hom iets sê, sy braai vaardighede komplimenteer, maar al wat uit my mond uit kom is ‘n glimlag. Ek kyk na my maag, hy lyk baie groter as gewoonlik. Dit pla my nie eers nie. Vir gerieflikheidshalwe maak ek my belt en broeksknoop los, dit was meer kos as wat ek aanvanklik gedink het. Ek vat ‘n oomblik en dink weer aan my broer se pens-teorie. Dalk is dit nie so absurd nie, eet is bliksems lekker.  Willem het my genooi om volgende Sondag weer by hulle te kom braai. Lyk my ek sal groter broeke moet koop.  
--Phillip Berg