Ek kry my dik baadjie uit my bakkie en trek dit aan. Dis donners koud
vandag. Dit kon erger wees. Ek kon nou in die Kaap gewees waar ek heeltyd oor
die rëen sou kla. ‘n Droë winter is sonder twyfel beter as ‘n Kaapse nat winter,
maar julle is welkom om met my te stry.
As ek dalk nie in parkeerarea buite Players hoef te gestaan het nie sou
ek dalk nie nou so koud gekry het nie. Ek leen teen my bakkie en wag vir my
goeie vriend, Pieter, om sy bier klaar te maak. Hy sal nie Players met daardie
Castle Lite mag binne gaan nie. Ek het al vergeet van sy vermoë om altyd te
drink en sy vermoë om altyd ander te laat wag.
Pieter is ‘n ou vriend wat hierdie week vir my kom kuier het. Hy is van
die kaap en ons was saam in die koshuis op Stellenbosch. Laas Saterdag het hy met
‘n twyfelagtige serp, ‘n ou film kamera en ‘n kus Castle Lite hier aangekom.
Dis duidelik dat Pieter baie verander het vanaf ek hom laas in Stellenbosch ‘n
paar maande terug gesien het, maar ek besluit om hom nie daaroor uit te vra nie.
Oor ‘n maand trek Pieter Frankryk toe om sy meestergraad in een of ander
ekonomiese rigting te verower. Eintlik is hy baie slimmer as wat hy voorkom.
Toe hy my gebel het om te sê hy kom kuier was ek baie opgewonde dat hy my wil
kom groet voor hy Europa toe trek. Ek het
spesiaal gevoel.
Vandag wil ek vir Pieter ‘n behoorlike Pretoria ervaring gee. Dalk moet
ons na die Voortrekker monument toe gaan? Dalk speel die bulle op Loftus? Dalk kan
ek vir hom Menlyn wys? Dit was nie lank nie toe besef ek dat dit nogals moeilik
is om vir ‘n Kapenaar ‘n behoorlike Pretoria ervaring in net een dag te gee.
Ek het nie geweet waarheen om hom te vat nie, maar toe onthou ek Pieter
is van Parow en toe bring ek hom maar Players toe. Dis ‘n poolbar in
Lynnwoodweg naby die Universiteit. Dis ‘n plek waar almal jou skeef aankyk as
hulle jou nie ken nie, maar dis oraait, ek was al baie hier.
Soos hy in my bakkie sit en die laaste kwart van sy afgewaterde bier
drink sê hy vir my dat hy nie eintlik baie van pool hou nie. Ek troos hom
en sê dat dit oraait is, ek sal hom leer, maar hy lyk glad nie lus hiervoor
nie. Ek zip my baadjie op en jaag hom weer aan. Hy het al vroeg begin drink
aangesien daar nog baie van die Castle lites oor is. Hy sê die biere moet op,
hy vlieg môre.
Uiteindelik is sy bier klaar en ek sluit die bakkie. Ons loop by die plek
se trappe op. As jy bo kom is daar ‘n rak vol poolstokke aan jou linkerkant.
Players is nie net ‘n kroeg nie, maar hulle verkoop ook pool toerusting soos
stokke, balle en driehoeke. Dis nou vir jou meer ernstige pool spelers, en hier
is gewoonlik baie van hulle. Die plek is goedkoop en vuil, en dis hoekom ek
daarvan hou.
As jy by die bar staan sien jy vinnig die groot slanghok aan jou regterkant.
Binne die hok skuil ‘n enorme pofadder, boomslang of een of ander reptiel wat
se soort ek nie meer vertroud is nie. Langs die slanghok sit daar ‘n oorgewig
tannie wat aan ‘n lang dun sigaret suig. Bo die bar hang ‘n reeks portrette van
bekende Pool spelers waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Daar is ook ‘n skildery
van honde wat pool speel.
Ek koop vir Pieter ‘n regte bier wat se naam nie met lite eindig nie. Ek betaal met ‘n R50
noot en gebruik al die kleingeld om tokens vir die tafels te koop. Daleen, die
vrou agter die bar, gee vir my ‘n handvol ovaalmunte. Pieter lyk nie gelukkig met
doe hoeveelheid pool wat ek wil speel nie.
Vanaf ek so 5 jaar terug leer pool speel het, het my liefde vir die spel
nog nooit ophou groei nie. Twee goeie skoolvriende van my, Daniel en Krikjan,
het vir my een aand in Durbanville al die tricks geleer. Dit was by een of
ander dokter (wie ons nie geken het nie) se huis en as ek reg onthou was daar
ook ‘n glas slanghok, maar nie een van ons het ooit die slang gesien nie.
My doel vanaand is om vir Pieter genoeg van pool te leer sodat hy dit
sal begin geniet en op sy eie sal gaan speel. Ek wil vir hom die liefde van die
spel leer soos Daniel en Krikjan dit destyds vir my geleer het. Hopelik het
Frankryk ook plekke soos Players waar hy dan daardie liefde kan uitleef.
Ek sit die ovaalmunstuk in die gat in die druk die masjien se arm in.
Die geluid wat die 15 poolballe maak soos hulle deur die tafel hardloop maak my
bloed vinniger pomp. Dis warmer hier binne as buite. Ek trek my baadjie uit,
want my arms moet nou gerieflik kan beweeg.
Pieter sê hy wil nie breek nie, tipies beginner. Ek gaan buk af tot op
tafelhoogte, maak my linkeroog toe en tref die wit bal met ‘n groot hoeveelheid
gesag. Twee solids val. Pieter vra waar ek geleer om so mooi te breek. “By
Kitching van Brackenfell, hy het my geleer om met die stok deur te trek”. Pieter
skud net sy kop. Duidelik is hy te cool vir Players en pool of dalk net te cool
vir Pretoria.
Dis Pieter se beurt. Hy kyk skepties na hoe die balle lê, skuif sy bril
bietjie hoër op en buk af. Sy gesig trek op ‘n snaakse manier soos hy
konsentreer, maar ek besluit om eerder nie te lag nie. Met baie krag skiet hy
die wit bal en dié stamp perongeluk een van sy stripes in. Beginners luck dink
ek byself.
Toe ek weer sien sink Pieter nog ‘n paar balle. Nou begin ek te
bekommer. Een vir een val sy stripes. Hy lyk self verbaas met sy vertoning.
Hy het net die swart bal oor en hy buk weer af om te skiet. Met al die krag wat sy regterarm hom bied
skiet hy. Dis te veel krag. Hy sink die swartbal, maar die witbal val ook. Verskriklik
teleurgesteld vat hy ‘n sluk van sy bier. Ek sit nog ‘n ovaalmunt in die tafel
en begin die balle te pak.
Soos die middag aanbeweeg vertel ek vir hom elke geheim wat ek van
hierdie wonderlike spel ken en Pieter neem alles baie mooi in. Met elke
wedstryd kan ek agter kom dat hy al hoe beter raak. Wat my die meeste verbaas
is hoe baie hy homself geniet. Na ‘n ruk het hy kroeg toe geloop en met twee
dubbel brandewyns en coke terug kom.
Elke wedstryd het Pieter baie goed begin, maar sodra hy by die swartbal
kom beteken hy niks nie. Beginner choke gereeld
op swartbal. Dis ‘n probleem wat mens soms sukkel om af te skud. Dit gebeur so
af en toe met my ook.
Pieter pak die balle nes ek hom gewys het. Hy leer baie vinnig. Tot my
verbasing breek hy toe die balle soos ek nog nie ‘n beginner sien doen het nie en
hy sink toe nog ‘n bal ook. Toe ek weer sien het hy drie balle minder. Lyk my
brandewyn gee vir hom daardie ekstra talent wat hy die vorige wedstryde kwyt
was.
Ek sit my glas neer en kyk noukerig na die tafel. Pieter haal nie sy oë
van my af nie, hy is nou ernstig. Brandewyn het mos so ‘n effek op Parow mense.
Ongelukkig kry ek net een bal gesink en Pieter kry ‘n stoute glimlag op sy
gesig. Hy buk af en sink nog twee balle. Dis nie lank toe het Pieter alweer net
die swart bal oor en amper al my balle is nog op die tafel.
Nes die vorige wedstryde sukkel
hy met die swartbal wat hy nie kan sink nie. Elke rondte sink ek nog ‘n bal en
hy raak net frusteerd. Hoe meer hy
sukkel hoe makliker maak hy dit vir my.
Uiteindelik is dit net die swartbal wat oor is en dis Pieter se beurt.
Hy het ‘n relatiewe maklike skoot. Hy buk alweer af, soot sy bril op en trek sy
gesig. Die stok tref die witbal en die wit bal tref die swartbal. Die swartbal
rol na die gat toe. Pieter se oë raak al hoe groter. Die swartbal stop net voor
die gat, hy het nie hard genoeg geskiet nie. Pieter laat val ‘n paar
vloekwoorde wat sy Parow herkoms bevestig.
Met baie gemak sink ek die swartbal. Pieter gooi sy stok op die tafel
neer en dit maak ‘n harde klap geluid. Daleen kyk op om te sien wat aangaan.
Pieter sê hierdie game is die storie van sy lewe, hy werk hard aan iets maar hy
kan net nie wen nie. Ek herinner hom dat pool nes atletiek is, mens moet nooit
te vinnig wegspring nie.
Hoekom ek so maklik vir hom hierdie raad gee nie weet ek nie. ‘n Pooltafel
is die enigste plek waar ek die swart bal kan sink. In my lewe lê daar self
baie swatballe wat ek nie in die gate kan inkry nie. Pieter maak sy brandewyn
met een groot sluk klaar en sê dat hy nou nie meer vir pool lus is nie.
Soos ons by my bakkie aankom is die vriendelike wintersonnetjie is besig
om te sak. Die temperatuur is nou besig om vinnig te daal en ek trek weer my
baadjie aan. Pieter sê dat hy nou iets wil doen wat hy nie in die Kaap kan doen
nie. Ek besluit toe maar om hom na die Unie geboue te vat.
Toe ons daar aririveer haal hy ‘n paar Castle Lites onder sy sitplek
uit. Hy sê die goed moet op, hy vlieg môre. Ons gaan sit in die tuine en drink
skelm ons biere sodat die sekuriteit ons nie kan sien nie.
Die uitsig is mooi. Pieter vra wie se standbeeld daar onder is. Ek sê
vir hom dat ek nie weet nie. Pieter haal sy kamera uit en wen dit op. Hy mik dit
in Sunnyside se rigting en neem ‘n foto.
Hy maak die laaste Castle Lite oop en vertel my van die meisie wat hom
onlangs gelos het. Blykbaar kan hy nie wag om die land te verlaat en van haar af
weg te kom nie. Ons praat oor die toekoms en oor hoe onseker ons daaroor is.
Hy vertel hoe hy destyds nooit verstaan het hoekom ek Pretoria toe
getrek het nie, hy het gedink ek is mal. Nou na ‘n week hier kan hy sien dat
die plek my baie goed behandel.
Ek vertel vir hom dat my skuif Pretoria toe glad nie so erg soos sy trek
Frankryk toe is nie. Hier kan die mense darem nog my taal praat. Ek vertel vir
hom hoe braaf ek dink hy is. Volgens hom is dit beter om ver weg te hardloop as
jy hardloop. In sy oë sien ek iets wat ek destyds in my eie oë gesien het, die
moet om te gaan.
Soos die son oor die hoëveld sak sê ek vir hom dat verandering goed is.
As hy ooit eendag terug kom, hoop ek maar net dat hy daar anderkant leer
om ordentlike bier te drink.
Ek hoop maar net dat hy met ‘n groter liefde vir pool terug kom.
Vir sy part hoop ek maar net dat hy in Frankryk dit reg kry om die swart
bal te sink.
--Phillip Berg