Tuesday, 28 August 2012

Wens jy het nooit gegaan nie

Ek kyk op na die hoë geboue. Meeste van die ruite is uitgeslaan, hulle kort hulp. Ek twyfel of daar enige wettige aktiwiteite daar binne plaasvind. Tyd dat ek hier weg kom, Johannesburg is niemand se vriend nie. Dis so skuins na 5 die middag en ek start my bakkie. Soos ek my seatbelt vasmaak begin die frontloader weer nommer 11 op die CD te speel,  presies waar hy 7 uur vanoggend opgehou het toe ek hier gestop het. Die Heuwels Fantasties se “Leja” is darm maar ‘n mooi liedjie. Die strate is besig, maar gelukkig vloei die verkeer. Ek ry in die pad af, verby lelike winkels en mense met onbereikbare drome. By die eerste verkeerslig draai ek links, in ‘n suidelike rigting, opsoek na die hoofweg wat my terug Pretoria toe sal neem. Nou wil ek net by die huis kom, dit was ‘n lang dag.
Die N1/M1 is die hoofslagaar van Gauteng en ek is nie die enigste een wat van hierdie roete afhanklik is nie. Duisende mans en vrouens wat hierdie Maandag hul bes probeer het om ander mense te beindruk gaan saam met my die verkeer aandurf en hopelik met genoeg energie by die huis aankom om daaroor te kla. In die verte sien ek hoe al die GP karre ophoop, net voor die oprit na die hoofweg. Hier begin dit, die lang sit. Oor ‘n paar uur gaan ek my 1ste rat en clutch baie beter ken.  Tyd is geld, en hier is mos baie geld in die Transvaal. Eweskielik onthou ek wat ek in my eerste jaar vir myself beloof het: ek sal nooit eendag in Gauteng bly nie. Niemand is perfek nie.
Na ‘n 15 minute is ek uiteindelik op die brug wat langs die stad loop. Aan my regterkant sit Joburg se geboue, groot en vaal. Net bo die stad is die son besig om te sak. Met my diesel Corsa bakkie sit ek in die middelbaan, want almal wil mos in die regterbaan wees. Gelukkig weet ek van beter, hierdie is nie my eerste keer nie. Ons beweeg stadig. Ry twee meter, stop vir 30sekondes, ry twee meter, stop vir 30 sekondes. Vandag gaan ek nog ‘n aar bars. Verkeer is nou een ding waaraan mens nooit gewoond sal raak nie. Of dit jou eerste keer is en of jy nou al vir 30 jaar elke dag drie ure agter jou stuurwiel deurbring, dit los altyd ‘n suur smaak in jou mond. Ons wil mos hier bo bly. ‘n Kurt Darren liedjie begin te speel oor my onder gemiddelde klanksisteem. Hoekom is “So bek kort jam” op hierdie CD? Met my linker wysvinger druk ek die next knoppie. Red Hot Chili Peppers, baie beter keuse.
Langs my is ‘n BMW Z5 en in dit is ‘n swart man met goue sonbrille. Sy musiek is kliphard, klink amper soos Backstreet Boys, net meer Afrika-rig. Op tye soos hierdie mis ek die Karoo verskriklik baie. Wat gewoonlik vir die verveeldheid help is om vir jou ‘n baken te kry sodat jy jou vordering kan dop hou. Soek ‘n voertuig in ‘n ander baan wat uitstaan dan kan jy seker maak jou baan is die vinnigste. Skyns voor my is ‘n blou Tazz. GP nommerplate met ‘n sharks sticker net bo dit. Dit is ‘n meisie wat lyk van hierdie afstand glad nie sleg nie. Hierdie Tazz is nou my baken en my doel nou is om verby hom te kom. Sover het ek nog net 1.4km gevorder, so ek het omtrent 63km oor voor ek by die huis is. Lieflik.
Hoe meer tyd ek in hierdie stad spandeer, hoe meer voel dit my ek kan nie hierdie plek vertrou nie. Daar is iets hier wat my ongemaklik maak. Dalk is dit al die onvoorspelbare taxis of die feit dat Eloff die duurste straat in monopoly was, maar elke keer as ek hier is, is ek twee keer meer skepties oor die samelewing. Soms voel Johannesburg soos daardie verskriklike mooi meisie wat saam met jou in matriek was. Sy is ordentlik en baie vriendelik met jou, maar jy weet nie eintlik hoekom nie. Dan begin jy haar intensies te bevraagteken en kort voor lank besef jy hierdie kat is nie kosher nie en dan hou jy haar noukerig dop. Ek weier om vir hierdie stad se vals glimlag te val soos die meisie in die Tazz langs my het. Ons plattelandse mense is al van kleins af geleer dat die stad ‘n lelike plek is waar net slegte goed gebeur. Wie is ek om met jare se wysheid te stry? Ek is net hier vir ‘n rukkie, net vir die dag. In en uit. Ja, ek gebruik net die stad vir my eie voordele, nes al die ander werkendes wat hierdie tyd van die dag in seatbelts geklee is.
My daguitsappies Johannesburg toe raak al hoe meer ‘n gereelde ding, en dit bekommer my. Ek kom selde hierheen vir plesier, meestal net vir werk. Dié stad betaal darm goed. Vandag moes ek in Doornfontein, die oostelike gedeelte van die middestad, deurbring. Dis nou nie die tipe plek waar jy eendag jou kinders wil leer om fiets te ry nie, maar eerder vir hulle leer hoe om so vinnig as moontlik te hardloop. In sekere dele van die middestad lyk dit of elke gebou op dieselfde dag opgerig is. Die argitektuur vertel jou met ‘n hartseer toon dat hierdie stad al beter dae gesien het. Jare gelede was die Rand ‘n plek waar drome waar geword het.  Deesdae sit ons in die verkeer en wonder oor wat ons vir aandete gaan maak. Ons almal se drome word nogsteeds hier waar, maar dalk laat hierdie stad jou êrens langs die pad besef jy hou nie meer van jou eie drome nie. Hierdie is ‘n stad gebou op almal se selfsugtige agendas en dis vir my moeilik om enige eerlikheid of liefde hier raak te sien. Johannes Kerkorrel het hard probeer, maar niemand wou hul harte vir Hillbrow gee nie. Ek sou ook nie, dis ‘n baie kak plek daai.
Johannesburg  het heeltemal ‘n ander geur as Kaapstad. Behalwe vir die tekort aan berge is die mense hier ook baie anders. In die Kaap is almal opsoek na ‘n plekkie in die son, maar hier staan almal gereed met sambrele vir ingeval dit reën. Hierdie is die tipe Suid-Afrika wat jy op advertensies sien. Ek onthou as kind het ek nooit verstaan hoekom daar enige mense in Gauteng bly nie. Daar is nie ‘n see nie en almal op Egoli is heeltyd ongelukkig. Tot Chris Edwards met sy  bottemless whisky bottel lyk of hy die plek haat, maar dalk was dit net Louwna wat hom so ontstel het.
Op universiteit het ek besef dat die enigste rede hoekom mense hul siele aan hierdie stad gee is vir die geld. Meeste studente het romantiese drome oor hul toekoms: dalk werk soek in ‘n klein dorpie in die Boland tussen die wingerde vir min geld, of dalk eers toer en die wêreld sien. Dis nie lank nie dan verdwyn daardie fantasië en hulle kry sulke Dollar tekens in hul oë. Wie is ek om neer te kyk op hulle, ek het presies dieselfde gedoen. Nommer 11 begin alweer te speel. Een CD is duidelik nie genoeg vir die hierdie verkeer nie en Die heuwels Fantasties se Leja raak nou afgesaag. Kan hierdie ouens nie net ophou kla nie? Bliksem man niemand gee om oor hulle liefdeslewe nie. Next, Kings of Leon. Nou dis baie beter.
Ek is nou voor die blou Tazz. Sukses! My baan is die vinnigste. Vat so BMW Z5 aan my linkerkant, jou Woolworths microwave kos moet eers wag. Ek maak perongeluk oogkontak met die meisie in die blou tazz. Sy lyk glad nie gelukkig nie. Haar hare is rooi gekleur en dit lyk of sy die naweek te veel gerook het. Dalk ‘n paar Brutal Fruits te veel afgesluk het. Sy is nie eintlik so mooi soos wat ek haar geskat het nie. Dis ‘n probleem wat te veel in Gauteng opduik. Dis duidelik dat hierdie Maandag haar onder gekry het. Sy het nie eens haar veiligheidsgordel vasgemaak nie, swak. Nou wonder ek by myself: hoekom is sy hier? Sit sy elke dag in die verkeer of het dit net perongeluk met haar gebeur soos wat dit met my gebeur het? Het sy ook net vir die dag in gery? Teminste het ek nie 'n GP nommerplaat nie, ek is hier op geleende tyd.
Meeste van die motoriste om my het seker nie ‘n ander keuse as om hier te sit nie. Mens moet eet. Ongelukkig kan ons nie by die huis bly nie, anders gaan Telkom, Multichoice of wieokal ‘n paar groot Nigeriërs na jou huis toe stuur. Dis hartseer, maar dis hoe dit hier werk. Johannesburg het alles wat jy nodig het, maar die prys wat jy betaal vir daardie gerieflikheid is hoër as wat meeste mense besef.  Hoekom laat mense die samelewing toe om hulle so aan die ballas te gryp en dan met die grootste boelie stem te sê: “fluit”? Hierdie meisie in die Tazz lyk soos ‘n slaaf, iemand wat nie eens besef daar is ‘n beter lewe daar buite nie. Dinge kan nie so aanhou nie, ek sal nooit eendag ‘n Transvaler wees nie.
Hierdie verkeer raak nou te erg en Pretoria is nog ver. Vir die eerste keer wens ek het nooit die Kaap verlaat nie. Shit happens. Agter die geboue kom die son baie laag uit. Vir ‘n oomblik vergeet ek van alles wat my pla, die verkeer, die stad en die BMW se aaklige musiek. My aandag raak weg in die oranje kleure wat oor die Hoëveld se horison lê. Ek het al baie sonsordergange gesien in my lewe, maar hierdie is defnitief top 5. Dalk is die Transvaal nie so ‘n slegte plek nie? Dalk moet ek net gewoond raak aan hierdie mense se manier van dinge doen. Dalk is ek net ‘n Karoo seuntjie wat vinnig afgeskrik word deur so baie faktore waaroor ek geen beheer het nie. Dalk moet ek net groot word.
‘n Entjie voor ons begin die karre spoed op te tel. Kan die verkeer dan nou al verby wees? Na net 3km? Soos ek uiteindelik na my 2de rat oorskakel sien ek die oorsaak van die verkeersophoping. ‘n Trok het tot stilstand gekom in die middelbaan en dit het die hele vloei opgevoeter. Daar was toe eintlik geen verkeer nie, net ‘n sensetiewe enjin. Alles is nou weer oraait. Met die son wat sak ry ek huis toe met ‘n glimlag en ‘n kalm gemoed. Ja nee, die Tranvaal is glad nie so kak nie, ek sal langer hier bly. My linkerwysvinger skip terug na nommer 11, want “Leja” is ‘n blerrie mooi liedjie. Die meisie in die tazz ry verby my. Sy glimlag breed.

--Phillip Berg

No comments:

Post a Comment