Sunday 19 February 2012

Dans met Pretoria


Jy weet daai gevoel wat jy kry as jy langs ‘n dansvloer staan en na al die mense kyk wat rond swaai terwyl jy net ‘n veilige afstand hou, en dan besef jy dat amper almal wat dans lelik of vet is, maar tog geniet hulle hulself baie meer as jy? Daardie gevoel laat mens nogals worry. Op ‘n tweede kyk besef jy dis nie net hulle looks wat hulle in die steek laat nie, maar hulle kan ook nie eintlik dans nie. Meeste van die massas onder die discoligte lyk soos ‘n epileptiese tumble dryer wat probeer yoga doen. Idiots, blerrie idiots. Ek weier om deel te wees van die lafwigheid, ek staan eeder eenkant, veilig. Die prys van daardie pret is te hoog vir my.
Skielik let ek op na my eie bewegings, my kwart-dans. My skouer beweeg so 4cm boontoe elke sekond en my kop hop net asof ek gedurig ja sê. Dis ‘n veiligheids dans, ek kan dit nie opmors nie en niemand kan sê ek probeer nie. Maar die see van jeugdiges hier voor my smile baie breer as ek. Dalk is ek jaloers op dié mense, op hul vermoë om nie om te gee nie, net te laat gaan en jou liggaam oor te gee aan die kak remixes van die DJ. Hier staan ek nou op die grens tussen twee wêrelde, op die punt van ‘n dansvloer. Aan my een kant is daar ‘n rustige aand, sonder risiko’s of verassings. Aan die ander kant is daar ‘n dansvloer, vol vet mense wat hulself geniet, en sweet, maar meestal hulself geniet. Soos baie aande tevore is die vraag presies dieselfde: “moet ek gaan dans of nie?”. Ek vermy die vraag en vat ‘n sluk van my bier
xxxxx
Ek maak my veiligheidsgordel los. As ek by die ruit uit kyk sien ek net wolke. Just my luck. Eintlik sou ek wou sien hoe lyk die oos-kaap van bo af, maar wie is ek om selfsugtug te wees? Ons land kort ALTYD reën. Hierdie is ‘n ideale geleentheid om ‘n paar hoofstukke van my nuwe boek deur te werk.  Gelukkig sit daar niemand langs my nie, want dié boek grens baie naby aan literotica. Ek wil net noem dat ek nie dit geweet het voor ek die boek gekoop het nie, maar soos almal hou ek ook van verassings. Vir ‘n oomblik sit ek die boek neer, vat ‘n sluk van my bier en besef: “shit, ek is oppad Gauteng toe, dis nogals heavy”.
foto geneem deur die meester, Michael Ellis
Ek was nog nooit langer as ‘n dag in Gauteng nie, maar hier sit ek op vlug nr MN902 van George na Johannesburg met elke onderbroek wat ek besit oppad na ‘n nuwe wereld toe, ‘n nuwe lewe. Vir die eerste keer kom ek agter dat ek alles net so agter los, ek gaan nie my kat gou weer sien nie. Wow, ek het nou nie ‘n ring in my sak nie, maar is hierdie dalk soos wat Frodo gevoel het? Seker nie, hy het nie bier gehad nie, ook nie so baie onderbroeke soos ek nie. Hierdie boek help baie, dit eet die minute weg en help dat ek minder worry of ek binnekort die pretoria aksent gaan kry.
Ek kan proë die bier gaan na my kop toe en ek dink terug aan Nomvember laas jaar toe ek die groot lewenskeuse gemaak het om Gauteng toe te verhuis. Soos ek dit kan onthou was dit ‘n saterdagaand. Ek het ‘n teorie dat daar niks goed gebeur op saterdaeaande nie, tensy jy by die huis bly, braai en rugby kyk. Dis dalk omdat jy gewoonlik met hoë verwagtinge nogsteeds op vrydae se momentum ry en op die harde manier leer niks moet forseer word nie. Hierdie spesifieke saterdag was anders. Ek dink ek het dalk ‘n das gedra, en dink nie eers daar was rugby om te kyk nie, maar erens tussen al die biere en pool games het ek ‘n keuse gemaak. Mense het al baie drastiese besluite gemaak as alcohol en gatvol gemeng word. Teen ‘n kasregister en ‘n taai barcounter het ek besluit ek trek pretoria toe.
Vir die wat my nie ken nie, ek is van die wes-kaap, nie van die kaap nie, van die wes-kaap, en ek was nog nooit voorheen in pretoria nie. Die televisie, koerante en my snob kaap vriende het veroorsaak dat ek altyd gedink het niemand het al ooit iets verloor in pretoria nie, nie eers die voortrekkers nie. Die plek het nog altyd te rof geklink vir my: snor city, P-town, die plek waar Bakkies Botha aanbid word en waar barfights so goed is soos ‘n handskud. Shit, dis nou te laat om uit te chicken.
Die tannie oor die interkom sê ek moet my veiligheidsgordel vas maak, ons gaan binnekort land. Hier is dit nou, Gauteng, die land van geld en mense wat Hartenbos oorneem in desembers. Tenminste love ek lughawens en OR Tambo stel nooit teleur nie. As jy soos ek arm groot geraak het laat die baggage claim area jou voel soos Bill Gates of teminste Johan Stemmet. Ek kry my sakke en haal my kamera uit sodat ek ‘n foto kan neem van die ouens wat my kom optel soos ek arriveer, hierdie is ‘n groot oomblik en ek gaan nog eendag my kinders hiervan vertel.

Xxxxx
Dit mag dalk net die bier wees wat praat, maar ek begin nou al hoe meer van hierdie DJ se musiek hou, my linkerhand begin al airdrums speel hier langs my. Vir ‘n oomblik voel dit of die strobe lights stadiger flikker as gewoonlik. Soos my oë vir die hoeveelste keer oor die dansvloer scan sien ek ‘n meisie, ‘n mooi meisie. Sy dra ‘n rokkie met blou en wit strepe op wat net genoeg van haar lyf wys om my te laat kyk, maar genoeg weg steek om my te laat wonder. Oulik.  Sy lyk bietjie anders as die res, swaai haar heupe rond bietjie anders as die res. Wie is sy? En hoekom is ek so ongelooflik jags eweskielik? Gelukkig nog nie jags genoeg om die dansvloer aan te durf nie, nee wat, ek bly net hier. Waarheen het my pelle verdwyn? Is daar ‘n rede dat ek eweskielik hier op my eie staan. Bliksems het seker gaan rook, tipies.
Soos ek omdraai om hulle te gaan soek wil ek net vir oulaas na ou strepies rokkie kyk. Waar is sy nou? Te veel vet meisies wat die uitsig blok! Wag wie is daai!? Hello blonde meisie met die stywe jean! Jy mag maar dans! Sy sien dat ek vir haar kyk, sy kyk terug. Die 5 sekondes wat ons oogkantak hou voel langer as die 2ure wat mens gewoonlik in die ry spandeer by binnelandse sake. Sy glimlag, draai om en dans aan, asof sy my nooit gesien het nie. Het ons oomblik dan niks vir haar beteken nie? Eyefuck sy my once! Blerrie teef! Of dalk was dit ‘n uitnodiging om haar te join tussen die geluide van ‘n vrydagaand, dalk wil sy my ‘n kans gee. Soos baie aande tevore is die vraag presies dieselfde: “moet ek gaan dans of nie?”. Nie nou nie, my bier is nog lank nie klaar nie.      
xxxx
Die ouens saam wie ek hierdie jaar gaan bly is nogals ‘n paar agtermekaar kerels. Hulle is verantwoordelik dat ek geskuif het van die kaap tot pretoria. Ek het een van hulle ontmoet oor die internet en die ander een in ‘n bar, ek het die shots gekoop. Toevallig was dit ook ‘n saterdagaand. Dis was nie lank nie toe begin hulle te praat oor die blink toekoms van pretoria, van hoe dit die stad is met die meeste potensiaal wat binnekort homself gaan bewys. “Dit gaan nie oor die plek verander nie”, sê hulle vir my, “dit gaan oor Pretoria te verbeter en op te bou as ‘n stad waar jong mense die kans het om hulself uit te leef en waarvoor hulle lief is. Basies werk ons aan pretoria se identiteit waarop die res van die land moet jaloers wees”. Wat!? Daar is mense wat trots is op Tswhane? Om heeltemal eerlik te wees met julle, ek het daai tyd gewonder wat rook hierdie ouens. In die kaap geniet ons goeie mense, goeie rugby en goeie wyn. So hoekom wil iemand in Pretoria wees?
Hulle noem toe vir my dat ek moet optrek Pretoria toe, dinge is aan die gebeur daar, apparently sal ek dit like. “Dis nie so maklik nie”, noem ek vir hulle, “dis nie net van oppak en trek nie. Dis oor ‘n 1000km, ek ken niemand daar nie, en ek kan ook nie baklei nie.” Al was die bier daardie aand nie genoeg nie, die saadjie was geplant en die saterdag daarna was die besluit geneem.
Ek stap met my 4 sakke en kamera domestic arrivals B se wag area binne. Niemand nie. Ek kyk op die sitplekke. Niemand nie. Ek stap bietjie rond, maak seker ek is op die regte plek. Niemand nie. Jis dankie ouens. Nooi my op Gauteng toe, belowe my die wêreld net om my alleen by die lugahwe te laat staan! Ek kyk weer rond. Niemand nie. Tipies Gauteng dink ek by myself, almal worry net oor hulself, survival of the fittest! Ek sit maar my lens cap terug op my kamera, ek sal hulle seker moet bel. Iemand sit hul hand op my skouer. "Welkom in gauteng bra!" groet my nuwe housemates my. Ek kan nie onthou wanneer laas ek mense so groot sien smile het om my te sien nie, dis nou mense wat nie my ouers is nie. Dalk gaan die pretoria plek nie te bad wees nie.


'n sekere Mnr. Heyns wat my kom optel by die lughawe
Ek klim in die kar, hulle vra my wat ek wil doen. Natuurlik weet ek nie en sê hulle moet my die plek wys. Ons ry verby groot geboue, helder ligte van besighede wat tot laataand skyn. Een ding kan jy verseker sê oor Gauteng, hierdie mense is nie hier om vakansie te hou nie. Een gedagte bly swem in my brein, hierdie is ‘n my groot kans, alles of niks. Op die backseat van ‘n silwer Merc wat laataand oor die snelweg ry besef ek hoe groot hierdie geleentheid is. Soos baie aande tevore is die vraag presies dieselfde: “moet ek gaan dans of nie?”. Ag fokkit. Speel die musiek. Sit dit harder. Kom ons dans met Pretoria.      
 --Phillip Berg