Sunday 22 April 2012

Vat die Karoo saam met jou (deel 1)

“Do you have any sharp objects?”. Dit is een van daardie vrae wat jy antwoord sonder om daaroor te dink, jy sit sommer jou mond op auto-pilot. Net soos wanneer iemand jou vra hoeveel suiker jy wil hê, dan sonder om eers te besef jy kry koffie antwoord jy: “twee asseblief”. Wie dra skerp voorwerpe saam hulle? Lyk ek vir die vrou soos ‘n rekkie? Terwyl ek dink aan ‘n droë comeback op hierdie verpligte vraag besef ek, shit, ek het ‘n skroewedraaier in my rugsak. Ja ek wil mos my rekenaar oopmaak van tyd tot tyd. “Yes I do” antwoord ek die tannie by die Kulula check-in en sy lyk nie baie gelukkig met my nie. Ek haal maar die groen en swart skroewedraaier uit en sit hom in my tas, want ek is nie lus vir moeilikheid nie, ek wil nou net by die huis uitkom.
Hier is ek alweer op die lughawe en dit voel anders as 2 maande tevore toe ek oppad Pretoria toe was. Die stres van ‘n nuwe stad infiltreer is weg en ek is baie rustiger. Nou voel ek soos ‘n 10-jarige laaitie voor kersfees wat weet sy ouers het net vir hom nuwe sokkies gekry. Dis oraait, ek kort sokkies. Ek het vanoggend die Gautrain gevat en hierdie is die eerste pitt stop op my reis. My kamera is soos altyd by my en my rugsak is gepak met boeke wat ek seker nie eers op die vliegtuig gaan oopmaak nie. Vir eers los ek die Jakarandas en die snorre van Pretoria agter, net vir ‘n kort rukkie, net vir ‘n week. Al vlieg ek vandag Kaapstad toe, is dit maar net nog ‘n pitt stop oppad Oudtshoorn toe, die plek waar ek leer praat, tel en vloek het. Die dorp waar ek groot geraak het.
Ek was 8 weke laas by die huis, daardie reënerige Woensdag toe ek en my ma in die kar geklim het oppad na Goerge se lughawe toe. Dis nie eintlik so lank terug nie, maar dis ‘n lang tyd sonder skaapvleis. Ek hou van huis toe gaan. Dis seker maar net ‘n lui mens soos ek wat dit geniet om in die platteland te gaan lê en fokol doen terwyl jou ouers jou voer en jou wasgoed was. Dit gaan al hoe minder gebeur van nou af, Pretoria is nie te naby aan die Karoo nie, en ek pis nie petrol nie. Nog nie.
Daar sit ‘n ouerige paartjie langs my in ry 6. Dis duidelik dat hulle Johannesburgers is, maar mens sou sweer hulle kom van die platteland af, want hulle is niks gewoond nie. Ek het seker gemaak ek sit by die venster, maar ek kan nie onthou dat ek die oom gevra het om heeltyd oor my te leun en te kyk hoe die weer oor die Vrystaat lyk nie. Ek oorweeg dit om vir my ‘n bier te koop soos die lugwaardin nader beweeg met haar trollie, maar liewers nie. My geld kan beter benut word in gate van die Wes-Kaap waar my “vriende” so graag uithang. Ek gaan drie dae spandeer in die algemene Kaap area voor ek ‘n lift huis toe vang. Ek is bietjie senuweeagtig oor hierdie drie dae, ek is nie meer so drinkfiks soos in die ou dae nie, maar ek weet my pelle is. Soos daardie draak in Super Mario is die Kaap iets wat ek moet verslaan voor ek kan aanbeweeg na saligheid. Dis reg met my, ek kan doen met ‘n uitdaging.
Hier is ek, Kaapfontein. Die plek waar drome begin en aande nooit eindig nie. Ek kry my tas met die skroewedraaier in en haal my kamera uit. Hierdie keer gaan ek my pelle afneem by Domestic Arrivals. Net soos 2 maande terug wag niemand vir my by die lughawe nie, net die taxi drivers wat probeer geld maak smile vir my. Lê die fout dalk by my? Vandag gee ek nie eintlik om oor sulke teleurstellings nie, ek is net so verskriklik bly om al my pelle weer te sien. Gelukkig het nie een van hulle verander nie en hulle is nog net soos ek hulle geniet - regte fokops. Ek was nie lank in die provinsie nie toe maak ons al klaar kuier reëlings. Dié manne is dors. In die kaap is almal altyd dors, dis seker iets in die lug. Vrydagaand Stellenbosch, laat weet vir almal wat jy ken, soos altyd. Dis die dag voor ek Oudtshoorn toe wil gaan, besef ek. Dis oraait, dit gee my 4 ure op die langpad om van ‘n potensiële babelas ontslae te raak en dan hopelik mooi te lyk voor die ouers.
As jy terug keer na ‘n plek na ‘n lang afwesigheid voel dit nie eintlik of jy ooit weg was nie. Tafelberg lyk nog dieselfde, Bellville ruik nog dieselfde en Stellenbosch proe ook nog presies dieselfde. Die goeie ou kaap dink ek. Soos meeste kinders van die Wes-Kaap het ek na matriek die wynlande aangedurf om ‘n graad te probeer kry. Dit het makliker geklink as wat dit werklik is, of so hoor ek, ek het nooit klaar gemaak nie. Ek onthou toe ek eerstejaar op Stellenbosch aankom en die ouens in die koshuis uitvind van waar af ek kom was daar altyd twee goed wat hulle wou weet: Hoe baie volstruise my pa besit en of daar plek is by ons huis vir ‘n tent tydens die KKNK.
Dit is lekker om terug te wees, my laaste Pitt stop voor die huis. Ek kyk na die bome en die berge wat toesig hou oor die studente, maar ek kan steeds nie vir Simon sien nie. Kom ons gaan uit en ontmoet mense wie se name ons nooit gaan onthou nie, klink na pret. Net voor ek en my vriende die pad na die onderdorp vat hoor ek my lift Oudtshoorn toe ry die volgende oggend al 06:30. Ag naat, Johan. Om te sê ek is nie ‘n oggend mens nie is ‘n understatement, ek is skaars ‘n middag mens. Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie.
Soos ons die eerste biere afsluk by Bohemia, kyk ek om my en besef hoe akkuraat Koos Kombuis hierdie dorp omgesom het. Die lewe hier is werklik ‘n bring en braai. Verantwoordelikvryfontein, dit moes eintlik Stellenbosch se naam gewees het. Bliksem ek is darm maar lief vir die dorp en al die lewenservaring wat hy so vrygeweig vir jou bied. Hier tussen halwe biere, semi dronk meisies en amper goeie vriende het ek al baie geleer van die lewe. Daar is ‘n rede hoekom die groot Man daar bo besluit het om my hier weg te kry, en ek dink ek weet hoekom. Dinge kan nie altyd so lekker gaan nie. Stellenbosch is vir meeste mense ‘n pitt stop van die lewe - ‘n lekker plek waar jy tussen skool en volwassenheid jouself heeltemal kan verloor sonder dat jy ooit wegraak. Vanaand is dit net ‘n oornag plek, ‘n pitt stop waar ek weer kan nostalgies raak saam met my vriende en maak asof dit nogsteeds die ou dae is. Stellenbosch was nog altyd my gunsteling one night stand.
Dis 06:15 en darm het ek nie te diep geslaap nie, so dis maklik om op te staan. Kom ons gaan huis toe. Die stad en sy groot verskeidenheid van alles is baie gerieflik en hierdie afgelope drie dae was baie lekker, maar ek is baie dankbaar dat ek in die platteland groot geraak het en dat ek nou ‘n rustige week in die Klein Karoo kan spandeer. Daar is iets in die vaal droë grond en fucked-up bossies wat my hart al lank terug gesteel het. En ek mis dit vreeslik. Mense van die kaap kan nie glo ek voel so oor die plek nie, maar ek is net te bly ek hoef nie dit met hulle te deel nie. Hoe kan ek nie van Oudtshoorn hou nie? Dis die plek waar ek die eerste keer verlief was en dis die plek waar my hart vir die eerste keer gebreek is. Die die plek waar ek nooit leer spel het nie, al moes ek. Nêrens anders in die wêreld is die sonsondergang so mooi nie. Mense sal stry en sê in die kaap en in die bosveld en waarokal sak die son net so mooi, maar in die Klein Karoo het die mense genoeg tyd om dit elke dag te waardeer.
Enige plattelandse dorpie is soos ‘n vrek lelike kind met minimale talente, net ‘n ma kan lief wees daarvoor. Jy moes hier groot geraak het, gesweet het in die wiskunde klas as dit 50 grade is, verveeld gewees het op ‘n Vrydagaand, skaam gekry het as die hele gemeenskap van jou skandes weet om die plek te waardeer. Jy moes die pyne van die dorp vir ‘n klompie jare saam jou dra om werklik daar te kan staan en te sê jy geniet dit. Ek en Oudtshoorn is al deur baie saam en ek raak redelik befok as iemand iets sleg sê van my tuisdorp.
Dis 06:30 en ek klim in Jaco Schoeman se kar. Hy is ‘n ou skoolpel van my en sy familie boer by die begin van die Baviaanskloof, aan Willowmore se kant. Goeie mense. Ek sê vir hom hy sal sonder my geselskap moet bestuur aangesien ek drie ure terug gaan slaap het. Die pad tussen die kaap en Oudtshoorn is die R62, en soos meeste Oudtshoorn mense het ek daardie roete al so baie gery, ek het dit al oorweeg om die bossies langs die pad name te gee. Bliksem ek voel sleg. Daardie tequila was ‘n slegte idee, dankie Dirk. Soos ek dink aan die mooi meisies van die vorige aand wat ek nie kon kry nie raak ek aan die slaap.

Na 4 ure se ry en 3 ure se slaap kom ons by die huis aan. Goeie ou Oudtshoorn noord, die tannie oorkant die straat is besig om gras te sny. Tipiese Saterdag hier. Ek stap die huis binne, my kat is daar om my te groet. Die plek is baie kouer as Pretoria, en ek dog dis April. My ma kom omhels my en vra my hoe ons gery het. Kak vraag dink ek. Dadelik voel ek tuis en haal een van die boeke uit my rugsak uit. Nou het ek tyd om te lees. Perfekte pitt stop vir ‘n week, behalwe vir die feit dat dit KKNK is. Shit ek het amper vergeet. Hierdie is my 18de agtereenvolgende kunstefees, ja ek nog nie een gemis nie. So van roosterkoeke, kak afrikaanse musiek en dronk tannies kan jy my niks vertel nie…
…Word vervolg…
--Phillip Berg

Wednesday 4 April 2012

Maak jou seatbelt vas

Daar is darm min goed so irriterend soos daai geluid wat ‘n kar maak as jy nie jou veiligheidsgordel vasmaak nie, veral as jy laat is. Soms moet jy nog sukkel met ‘n hardkoppige gordel wat heeltyd vashak as jy hom vat. Jy weet jy moet hom rustig trek, maar omdat die kar beep beep gryp jy hom met geweld soos daardie laaste chip by ‘n braai, en dit help glad nie. Hoe meer die ding vashak, hoe meer befok raak jy en hoe harder trek jy. Partydae voel dit mos of die wêreld teen jou is. Almal ken daardie dae, almal kry sulke dae. Ek oorweeg dit om maar die blerrie gordel te los, maar dan wonder ek wat sal gebeur as die kar vinnig stop en ek deur die windshield trek, as ek ‘n vet stuk glas met my voorkop sou breek. Die idee maak my bang, want na al die jare klou ek nogsteeds vas aan my acting drome. Nee, dis beter om veilig te wees. Uiteindelik kry ek beheer oor die seatbelt, prop hom en sit die musiek harder, niks soos ‘n paar wilde beats soos jy oor die urban jungle toer nie. Al wat nou kort is ‘n bier.
Ek het nie ‘n idee waar ek nou is nie. Lang strate, breë strate, eenrigting strate, weet enige iemand ooit waar hulle is in hierdie stad? Die strate van Pretoria is baie anders as die van die Kaap. In die Wes-Kaap is daar darm berge wat jy as ‘n rigtingwyser kan gebruik as jy verdwaal. Nie dat ek verdwaal het nie, ek bestuur nie eens nie, ek toer net. Adam en die groen Merc waarin ons ry ken die plek darm redelik oraait, hy bly al sy hele lewe lank hier en boonop like hy nog die plek ook. Hy vertel my daar is tot ‘n straat êrens in hierdie stad wat na sy ma vernoem is. Dis nou vir jou ‘n ding! Maar hy weet nie presies waar dit is nie. As jy hier ‘n afdraai mis vat dit jou ‘n rukkie om weer opkoers te kom, maar dis wanneer jy die plek leer ken, as jy verdwaal. Dis lekker om net te sit en te kyk na al die plekke en mense wat ek nie ken nie. Dis nou al langer as ‘n maand wat ek hier is en ek wonder nogsteeds of ek nie dalk ‘n moerse fout gemaak het deur te kom nie.
Adam is my housemate en hy is baie goed vir my. Maak nie saak waarheen hy oppad is nie, die naaste bank of die universiteit se admin gebou, hy nooi my altyd saam sodat ek Pretoria kan sien vanaf sy pa se groen ML. Hy gebruik hierdie voertuig terwyl sy pa in Amerika is vir een of ander werk avontuur. Lekker luuks, ek weet. Ons ry verby plekke wat ek al baie van gehoor het, maar nou vir die eerste keer sien. Niks lyk soos ek gedink het dit sal nie. Adam vertel my iets interessant oor amper elke plek wat verby ons vlieg, hy is ‘n goeie gids en hy laat my vinnig vergeet dat ek ooit gedink het Bellville is oraait. Ek dink hy besef die mense in die Kaap dink nie veel van Pretoria nie, nou probeer hy die plek waar hy groot geraak het se reputasie bietjie help, ‘n hupstoot gee. Hy het al amper die hele stad vir my gewys, even die Square, even Valhalla, even Pretoria-Noord, maar nog nie Centurion nie, want dis nie Pretoria nie, volgens hom.
Ek het Gauteng toe gekom sonder ‘n voertuig. Dis nie ideaal nie, maar dis wat gebeur as jy oor rooi ligte ry, jy verloor jou kar, en so bietjie van jou ouers se liefde. Kom ons wees gou eerlik met mekaar, jou ouers se liefde maak die lewe makliker. Dalk is dit beter dat ek my eerste twee maande hier deurbring sonder wiele, dit mag my dalk net uit die kwaad uit hou, weg van die pooltafels af, weg van KFC af. Ek hou van bestuur, dis lekker. Daardie gevoel wat jy kry as jy die clutch intrap en die rat verander is iets wat ek mis. Dis ‘n pragtige krag wat deur jou are vloei en dit laat almal mos dink hulle is Tom Cruise, en as jy dink jy is Tom Cruise dan kan jy mos enige iets doen. Eintlik is jy nogsteeds die poepol agter die stuurwiel wie se mond oophang en Kurt Darren tunes luister. Ja julle het my reg gehoor, niemand is perfek nie, en dis hoekom ek al 2 karre afgeskryf het, maar ek sal dit nooit op Kurt blameer nie. Gelukkig het ek altwee kere my veiligheidsgordel vas gemaak en my gesig is nog bruikbaar, nes Tom Cruise sin. Ja, dis defnitief beter as ek nie hier bestuur nie, Santam haat my al.
Soos ons deur die strate ry kyk ek rondom my en ek dink, dis mooi hier, my oë sukkel glad nie as ek kyk na hoe Pretoria aanmekaar gesit is nie. Die jakarandas wat die pad toe groei laat my voel soos ‘n eerste span rugbyspeler wat deur die tonneltjie hardloop voor dié groot game. Ek raak sommer opgewonde oor hulle teenwoordigheid. Dit voel my hulle ondersteen my, glo in my, moedig my aan, al weet hulle nie hoekom ek hier is nie of waarheen ek oppad is nie. Ek weet nie eers nie, Adam weet, hy bestuur. Hy het ook sy veiligheidsgordel aan, nie omdat hy ook al 2 karre afgeskryf het nie, maar omdat daardie blerrie beep die kak uit ons irriteer. As ek mooi daaraan dink lyk die jakarandas vir almal dieselfde, maar ek gee nie om dat hulle almal hier ondersteun nie, want almal hier het dit nodig. Adam steek ‘n sigaret aan en draai die ruit bietjie oop. ‘n Jack Parow song kom op, ek sit die musiek harder, want jis daai ou rap lekker.
Baie mense het my al gevra hoekom ek Gauteng toe gekom het dan wil ek nie eintlik hulle antwoord nie, want ek weet nie hoe nie. Ek het Adam op skool ontmoet, op die internet van alle plekke en nie eintlik onder vriendelike omstandighede nie. Laas jaar het ek hom weer raak geloop, en toe bied hy my verblyf aan, in Pretoria van alle plekke. Dit was nie ‘n moeilike besluit nie en toe ek weer sien toe werk ek en hy saam, en toe dusver gaan dit baie goed. Ons maak movies, videos, watokal jy dit wil noem en ons is actually nie te sleg nie, as ek nou bietjie kan brag. Soveel talent soos wat ons dink ons het help nie te veel as jy jonk is nie, nie in hierdie land nie. Lankal het ons het besef as jy nog nie die regte persoon se dogter na ‘n matriekafskeid geneem het nie gaan jy sukkel, as jy weet wat ek bedoel. Maar ons hou nog uit, nie een van ons sal sommer gou opgee en ‘n onderwyser of ‘n plumber raak net om bier en sigarette op die tafel te sit nie.
Soos ons luck nou maar is kry ons elke robot rooi. Nes die Kaap het Pretoria ook heelwat snaakse figure wat by verkeersligte uithang, maar hier is hulle bietjie anders. Hulle dra Bulls truie en praat met jou asof julle langs mekaar gesit in standerd 2. Hoe meer jy sê jy wil nie ‘n paspoort houer of 500 swart sakke hê nie hoe meer begin hulle met jou emosies te speel. In Gauteng wil hulle hê jy moet hulle jammer kry, in die Kaap irriteer hulle jou tot jy hulle betaal om te loop. Adam is nice, hy gee hulle gewoonlik iets. Ek aan die ander kant kan nie minder omgee oor die bedelaars nie, ek hou my kleingeld vir pool games. Elke keer as ek hulle sien is daar iets binne my wat sê: “maak net seker jy eindig nie eendag so op nie”. Bliksem, ek sal ‘n kak boemelaar maak, ek het ‘n regte moer-my-gesiggie, niemand sal my enige iets gee nie. Hierdie movie ding beter uitwerk! Ek kyk na die mense in die ander karre, almal lyk so rustig, niemand is kwaai nie, almal het hul veiligheidsgordels aan. Die lig raak groen en ons ry verder. Die Jack Parow tunes het gestop, dis nou Blink se beurt om ons wakker te hou.
Die middestad van Pretoria voel soos Afrika, maar nie die tipe Afrika wat jy op National Geographic sal sien nie. Wat my verbaas is als klink afikaans in die sake sentraal van ons hoofstad maar hier is nie ‘n teken dat hier enige afrikaans rond beweeg nie. Hierdie stad het duidelik baie forgotten glory en ek sal graag wou sien hoe dit hier gelyk het in die 70's. Sekere mense sal vir jou sê kerkplein is nou maar net ‘n gedagte van wat dit altyd was en Paul Kruger kyk nie meer na dieselfde dinge as voorheen nie. As jy mooi kyk lyk dit of oom Paul ook sy seatbelt vasgemaak het. Hy het ook seker verstaan dis beter om veilig as jammer te wees. Dalk het hy ook sy ossewa gerol op die Calitzdorp pad. Ek wonder hoekom het oom Paul en die ander voortrekkers opgetrek? Waarom was hy en sy tjommies kwaad vir die Kaap? Het hy dalk sy goed gepak en getrek vir dieselfde redes as wat ek het? Dalk het hy nes ek besef as jy moet gaan, moet jy fokof.

Na ‘n suksesvolle middag stop ons weer by die huis. Ek maak my seatbelt los, Adam gruip die sixpacks en ek vat die Pick & Pay sakke en ons stap weer die huis binne. “Bier?” vra hy my terwyl ek op die stoep staan en oor Pretoria uitkyk. Ek antwoord ja en vra hom nog vrae oor die stad soos ons die Black Labels geniet. “Hier gaan ons nog baie goed doen” sê hy vir my, “ek is bly jy het gekom”. Ek sien ‘n storm wat in die verte nader beweeg, ons timing was goed. Die storms hier is beter as enige program op kykNet en ek love dit. Die bier klap my alweer vinnig, dalk is dit tog die lugdruk. Dis asof ek skielik besef waaroor alles gaan, die lewe, my werk, my vriende, my liefde. Bier doen dit mos aan ‘n mens. Een oomblik chill jy lekker, volgende oomblik praat jy asof jy ‘n professor is, lekker vol van jouself. Dan die volgende oomblik kan jy niks onthou wat jy sopas gesê het nie. Al wat dan uit jou mond uit kom is: “ons het vergeet om brood te koop”.

-- Phillip Berg