Monday 9 July 2012

Onthou die kaartjies

Die son is al hoog en dis lekker warm, wie sou kon raai dis winter. Hier is mense wat skree en te veel  mense in pienk. Vir die eerste keer vanaf ek in Gauteng bly voel dit my ek het die regte Pretoria ontmoet. Ek sien al lank uit na hierdie dag. Na die bier, die vleis en heel belangrikste, die rugby. Dit gaan ‘n goeie dag wees. Saterdae middae is mos kerk en ons het kaartjies vir dié jaarlikse erediens op Loftus. Wat ‘n groot affêre. Ons het oorkant Loftus op een van die Afrikaanse Hoër Seunskool (affies) se rugbyvelde geparkeer sodat ons ordentlik kan opwarm voor die groot stryd. Die mense hier staan gereed met hul nagmaal brandewyn om later te kyk hoe die Bulls die Stormers pak. Dis die Noord-Suid derby en ons manne is reg vir die rugby, vanmiddag. Dit gaan groot wees. No losers, only survivors.
Ons drink Castle, want dit is wat jy drink as jy sport kyk. Ons braai ‘n pak boerewors, want ons is arm. Dis my eerste keer hier en ek is meer opgewonde as ‘n Karoo boer met ‘n vol dam. Terselfdetyd is ek ook senuweagtig. As ‘n stoere WP ondersteuner vrees ek dat ek dalk net vanmiddag my mond verby gaan praat. As die castle so maklik vloei kan ek nogals bekkig raak, veral om ‘n rygbyveld. Ons Wes-Kaap mense is mos nou nie eintlik die grootste ondersteuners van die ligblou manne nie, en hulle nie van ons nie. Ons haal ons miniatuur braai uit en pak hom vol hout. Ja, hout, sodat die mense in die pienk truie kan sien vir watter span ons skree. Die leë castle blikkies langs ons kar raak al hoe meer en ek kan nie meer wag vir die afskop nie.
My house-mate en kollega, Joey, gaan saam met my later die oospawiljoen aandurf. Hy is nie eintlik ‘n ou vir hierdie tipe geleenthede nie. Sy kas is vol skinny jeans en die band waarin hy speel skree te veel vir hul eie bes wil. In die 5 maande wat ek al saam met hom bly kyk hy darm al meer gereeld rugby en vra my ook gedurig uit oor die rëels by die afbreekpunte. Ek dink ek het ‘n groot bydra gelewer tot sy nuwe entoesiasme oor sport. Hy is maar ‘n rustige ou, maar hy skree op sy hardste as iemand ‘n drie druk, maak nie eers saak watter span dit is nie. Dit gaan lekker wees om my eerste Loftus ervaring met hom te deel, want dit voel my hy glo altyd alles wat ek sê. So as ek vir hom sê om die Bulls te haat, dan volg hy graag my raad.

Joey sê hy is reg vir nog 'n bier
Soos Joey vir ons nog biere uit die coolerbox kry kom groet die twee manne wat by die kar langs ons kuier. Vriendelike ouens, Piet en Frank stel hulle hulself voor. Piet is van Brackenfell in die Kaap en Frank is van Montana in die noorde van Pretoria. Hulle twee is neefs wat altyd saam kyk as die Stormers of die WP teen die Bulls speel. As dit in die Kaap is vlieg Frank af, en Piet vlieg op as dit hier bo is. Dis blykbaar ‘n ou tradisie wat hul ouers begin het. Piet dra ‘n WP trui en Frank het ‘n Bulls trui aan van 2007, daai jaar wat hulle vir die eerste keer die Super 14 gewen het. Frank hou net aan oor hoe die Bulle vanaand amok gaan maak teen die Stormers se meisie agterlyn en kleuterskool voorspelers. Piet is stil, hy sê ons sal na die tyd kyk wie lag. Die Castle maak ons almal gesellig. Joey glimlag breed maar hy praat nie veel nie. Toe Frank uitvind dis my eerste keer op Loftus vertel hy my van die drie dinge wat jy nodig het om hier te oorleef: ‘n liter brandewyn, 2 liter coke en ‘n 3liter Ford. Ek het geen idee wat hy daarmee bedoel nie, maar dit maak my bietjie skrikkerig.


Piet en Frank. Ek het geen idee wat hul van is nie

Na 3 worsrolletjies en amper 2 six packs gaan kry ek my baadjie in die kar, dis tyd om stadion toe te loop. Ons loop verby karwagte, ooms met horings op hul kop en laaitjies met rugbyballe. Ek kan sien Joey voel bietjie ongemaklik tussen al hierdie mense, maar ek dink hy kan dit hanteer want hy kom van Vereeniging af. Soos ons nader aan die spreiligte kom sien ek dit groot voor my: Loftus, die Pretoria paleis. Ons almal het al die stories gehoor van dié plek. Van naartjies gooi tot tannies met perms wat jou wil tackle as jy iets sleg oor Morné Steyn skree. My broer se kamermaat van universiteit het my vertel hoe iemand hom in 1998 tydens die Currie Cup finaal met ‘n hosepipe nat gespyt het omdat hy ‘n WP trui aangehad het. Dis alles dalk net spookstories, maar dit werk. Die plek is donners intimiderend. Dis asof die mense hier kan ruik dat jy vir ‘n ander span skree. Elke groot rugby ondersteuner weet dat dit jy een of ander tyd in jou lewe hier moet rugby kyk. Loftus het te veel tradisie, te veel stories en te veel misterie om nie hier ‘n draai te maak nie. Dis nie altyd lekker nie, maar dis iets wat jy moet doen.

Die mense langs Loftus hou nie van die Kaapse streekspan nie
 
Ons kom by die hek, sit ons kaartjies in die masjien en gaan soek vir bolk CC. Ek kyk rond, maar ek sien nie die standbeeld van Naas Botha nie, ook nie vir Steve Hofmeyr nie. Na ‘n lang gesukkel kry ek ons net betyds ons sitplekke. Dis net so duskant die verkeerde kant van die kwartlyn, maar ons kan darm sien wat aangaan. Agter ons sit ‘n paar omies met wilde snorre. Dis duidelik vir watter span hulle skree. Die Stormers hardloop op die veld en ek is verbaas met hoe baie toeskouers hulle toejuig. Dan kry die mense hul vlae reg vir die Bulls. Dewalt Potgieter hardloop op sy eie by die tonnel uit, want dit is sy 50ste Super wedstryd. Die res van die Bulls volg dan met ‘n hoë spoed en die skare juig. Dis op die daardie oomblik wat ek vir die eerste keer in my lewe gewens het dat ek eerder kleurblind was. Ek het al lelike goed in my lewe gesien, goed wat ek liewers wil vergeet. Daardie pienk nommers van die Noord Transvaal is defnitief bo aan die lys en laat ek julle nou vertel, hulle lyk baie erger in lewende lywe as op die kassie. Hulle skop af. Die Stormers beter wen, ek sal te bang  wees om hier weg te stap as hulle nie het nie. Soos die manne daar onder op die veld mekaar moer toe duik, dink ek aan al die vorige kere wat ek by so ‘n groot rugby wedstryd was. Nou is daar net een ding op my brein: my geliefde WP se tuisveld, Nuweland.

Nuweland rugby stadion is verseker een van my gunsteling plekke in die wêreld en ek onthou nog goed die eerste keer wat ek daar was, Junie 1995. Die Springbokke het teen ‘n WP uitnodigingspan gespeel as deel van hul voorbereiding vir die Wêreldbeker. Leon Schuster se “hie kommie Bokke” album het net uitgekom en elke kar buite die stadion het dit met ‘n oop kattebak so hard as moontlik gespeel. Ek was 6 jaar oud en ons het op die skolierebankies (wat deesdae nie meer bestaan nie) gesit.  Ek kon nie minder omgee oor die rugby nie, maar vir ‘n laaitjie van die platteland is dit altyd lekker om tussen so baie mense te wees, veral as hulle raas. As ek terug dink aan daardie dag was die hoogtepunt nie die berg, trein of Chester Williams nie, maar toe ons na die wedstryd oor die veld gehardloop het. Deesdae laat hulle dit nie meer toe nie. Al het ek nie daardie dag verlief geraak op die streeptruie nie, was dit vir my onvermydelik om ‘n WP ondersteuner te raak, veral in my familie.
My broer, my ma en my pa is sport befok. Of dit nou rugby, tennis, F1, golf, krieket of watookal die hoogtepunt van die naweek is, my familie sal dit kyk. Behalwe sokker, want ons NG kerk mense, en my pa was vir lank ‘n ouderling. My broer is ‘n walking, talking  ensiklopedie van Suid-Afrikaanse rugby en krieket, hy weet alles. Vra hom gerus wie die voorry van die WP was in 1986 toe hulle die Currie Cup gewen het of hoeveel honderdtalle Gary Kirsten al op nuweland geslaan het, hy sal jou heel moontlik kan sê. Amper alles wat ek van sport weet het ek by hom geleer. My ma ken seker meer rugbyreëls as die ouens wat vir die Griekwas speel. En my pa, wel hy hou net daarvan om op die spelers te skree. “Daai donnerse Bekker! Wat soek hy daar? Hy doen dit elke blerrie game!” sal hy skree as ou Andries die bal in die agterlyn nok.  Hy glo ook die span wat eerste punte aanteken gaan die wedstryd verloor. Mens kan nie met hom daaroor stry nie.
Dis rustyd en die Bulls loop voor. Dit lyk nie goed vir die Stormers nie, maar hulle is darm nie te vêr agter nie, een drie sal genoeg wees vir ’n wen. Oor die luidsprekers weergalm die woorde van Leon Schuster: “Was jy ooit al daar op Loftus as dit vol is en dit rof is?”. Hy het ook ‘n liedjie vir elke span. Die spelers draf weer op die veld uit en dit het eweskielik baie koud geraak. Joey begin lyk of hy verveeld raak, maar hy hou vol dat hy homself geniet. My aandag begin self ’n bietjie te dwaal.  Aan my regterkant kan ek die Unie gebou in die verte sien en aan my linkerkant blink die liggies van Brooklyn. Ek is mal oor sport. Daar is min goed so lekker soos om tussen 40000 mense te sit en te skree op 30 ouens wat almal agter die dieselfde bal aan hardloop, maar hierdie 2de helfte is nou nie mooiste rugby wat ek al gesien het nie.  Ek kyk toe maar langs die veld na daardie oulike meisies met hul wilde danspassies. Die rugby is dalk nie te interessant nie, maar hierdie dames geniet dit. Dis toe alles verander.
Soos ek die donkerkop derde van links uitkyk sê iets in my agterkop vir my om na die game te kyk. Die Stormers se agterlyn is al weer vol voorspelers, tipies. My pa vloek seker nou baie hard daar by die huis. Toe besluit die reserwe slot om die vlakste aangee ooit uit te stuur na die buitekant. In die hoek van my oog sien ek die Bulls se senter wat rats op die bal afstorm.  Hier kom ‘n onderskep drie, tipies, hulle leer mos nooit nie. Soos ek negatief raak sien ek dat die Stormers flank, Siya Kolisi, net-net die bal gekry het en dat die Bulls se senter nou uit posisie is. Hy is soos ‘n vlinder deur die gaping. Hardloop Bliksem, Hardloop! Ek spring op van blydskap en skree so hard soos wat ek kan. Ek kan voel hoe die omies agter my kwaad raak. Kolisi is in volle vaart oor die kwartlyn reg voor ons, maar die Bulls se heelagter nael op om af. Hy gee vinnig die bal uit na Habana langs hom, toe spring Joey ook op en begin sy longe uit te skree. Onder die pale, 7 punte in die spreekwoordelike sakkie, dankie Bryan. Ek en Joey gryp mekaar en gee mekaar ‘n drukkie soos 2 mans nog nooit mekaar op Loftus gedruk het nie. Die omies agter ons lyk redelik befok. Tyd om stil te bly sê ek vir myself.

19 -14, ‘n wen op Loftus verdien ‘n beker, 'n mooi goue een. Ek was drie jaar terug op Nuweland toe die WP teen die Bulls verloor het in beseringstyd in ‘n Currie Cup semi-finaal, maar al die pyn van daardie dag is nou vergete na hierdie ongelooflike oorwinning. Buite die stadion is daar ‘n paar lang gesigte, meestal mans gekleë in pienk. In die verte sien ek vir Frank en Piet wat terug in Affies se rigting loop. Frank lyk glad nie gelukkig nie. Mens hoef nie eers die rugby gekyk het nie, die uitdrukking op sy gesig vertel die hele storie. Dit lyk of iemand sy 3l Ford Ranger gesteel het soos hy frons. Piet stap ’n entjie agter Frank en hy lyk glad nie so haastig nie. Sy liggamstaal vertel ‘n ander storie, die storie van ‘n iemand wat nou net uitgevind het hy hoef nie inkomstebelasting te betaal nie. Al is dit nou doners koud het Piet sy baadjie in sy hand en hy adverteer daardie rooi disa op sy bors met trots. Hy glimlag breed.

--Phillip Berg
Hierdie ou eet van die vloer af