Showing posts with label afrikaans. Show all posts
Showing posts with label afrikaans. Show all posts

Monday, 12 November 2012

Bring jou eie vleis

My broer sê altyd dat elke Afrikaanse oom ‘n groot pens moet hê. Hy voel dit is tradisie. Nie omdat ons van die “PT broekie en pens”- look hou nie, maar omdat dit maar net is hoe ons is. Eintlik wil niemand ‘n maag rond dra nie, maar die meerderheid van ons volk se mans het nie ‘n keuse nie. Of daardie pens nou ontstaan het deur te veel bier, brandewyn, ongesonde kos of swak gene, my broer het tot die gevolgtrekking gekom dat dit onvermydelik is. Sodra ons oor die spreekwoordelike muur is, gaan ons moet belê in groter broeke en langer belde. Vir te lank het ek met hom hieroor gestry, sy toekomsvoorspelling afgelag. Soos ek ouer raak ontwikkel ek ‘n persoonlike vrees vir hierdie pens. Kom ons wees gou eerlik met mekaar: meeste van ons pa’s lyk of hulle al sewe weke dragtig is, en as jy na hulle universiteits foto’s kyk, lyk dit of hulle almal Springbok gimnaste was. Waar het dinge skeef geloop? Hoe verander ‘n skraal seun in ‘n XL-draende man? Ek weier om eendag oorgwig te wees, al is dit in my bloed. 
Die probleem is ons Afrikaners het te veel plesiertjies in die lewe, en ons kan dit nie afskud nie. Dis die klein goedjies wat ons laat beter voel as ons die dag afgepis is. ‘n Vinnige bier met ‘n kollega word gou ses draughts by die Dros oorkant die straat. ‘n Vinnige happie biltong word skielik ‘n halwe kilo van die vetterigste, natste, lekkerste beesvleis die kant van die Vaalrivier. En dan is daar elke Afrikaner se kryptonite: braaivleis. Dis so lekker tot die Engelse mense probeer dit al. Wie kan die aroma van ‘n skaaptjop weerstaan? Wie kan nie opgewonde raak oor ‘n braaibroodjie wat se kaas lekker pap gesmelt is nie? Wie kan nee sê vir ‘n 500g T-bone wat die mooiste pienk binnekant het? As ek ooit eendag ‘n lid van die boepens klub is sal dit wees omdat my vrou my toelaat om meer as twee keer ’n week te braai. Daar is min goed wat my so gelukkig maak soos ‘n vleisie wat oor rooi kole ge-tan word. Dit ruik soos naweek, klink soos vakansie en proe soos die hemel, met Jimmy sous op.
My vader en sy pens, besig om 'n skaapboud te braai
 Vandag is ek oppad na die Noorde van Pretoria. ‘n Onebekende gebied, anderkant die berg. Willem, ‘n vriend wat ek vroër die jaar ontmoet het, het my genooi om by sy huis te kom braai. Dit is nie vir my moontlik om vir ‘n braai nee te sê nie, al is dit ver. Sy boodskap was eenvoudig: “Bring net vir jou iets om te eet en ‘n drink dingetjie, verder hoef jy nie te worry nie”. Haastig ry ek na die naaste slaghuis en kies ‘n lekker vet Rump-steak wat ek teen ‘n billike prys aanskaf. Ons Karoo mense hou van skaapvleis, maar in Gauteng is dit nie eintlik ‘n opsie vir iemand wat in my finansiële situasie is nie. Gelukkig is vleis is altyd lekker, al is dit hadeda. Vandag het ek net een doel: om myself heeltemal te vervreet, want ek glo dit is wat jy op Sondae moet doen. My Biologie onderwyser op skool het altyd gesê dat sondaemiddae baie lekker is tot jy na ete op die bank gaan lê en die custard begin uit jou mond uit te loop. Ek sal nie vandag teleurgesteld wees as dit met my gebeur nie. Voor ek vir die steak betaal gryp ek ‘n groot sak hout, want hierdie mense braai met charcoal en ek is jammer, dit is net nie krieket nie.
Daar is ‘n drankwinkel reg langs die slaghuis. Duidelik weet die besigheidsmanne in hierdie provinsie wat hulle doen. Drink en braai is twee aktiwiteite wat ek eintlik verkies om nie te meng nie. Net soos elke jong man hou ek van ‘n biertjie, maar ongelukkig het ek al gevind dat drank my standaarde verlaag en voor ek weer sien is ek tevrede met ‘n tjoppie wat geflamegrill is. Braai is ‘n eksklusiewe buitemuurse aktiwiteit wat ten alle tye met die nodige respek behandel moet word. Niks behalwe die beste kwaliteit is aanvaarbaar nie. Ongelukkig beïnvloed drank kwaliteit. Boonop laat die kombinasie van vleis en bier jou pens vinniger groei as ‘n plakkerskamp langs die snelweg. Vandag hou ek eerder verby die drankwinkel.
Ek stop by Appelblaarlaan 370 in Magalieskruin en ek word begroet deur ‘n groot Duitse herdershond. Dit is ‘n baie eenvoudige, gerieflike huisie sonder drastiese sekuriteit, net honde. ‘n Mens kan sien niemand se ouers bly hier nie. Willem het groot geword in die Noord-Wes en op hoërskool het sy familie Pretoria toe getrek. Hy is ‘n groot, blonde man en dit lyk of sy voorouers dalk Vikings kon gewees het. Onder sy stywe hemp berê hy ‘n aansienlike groot pens waarvoor hy glad nie skaam is nie. Dit maak my bekommerd, want hy is maar net twee jaar ouer as ek. Ek hoop net dat ek oor twee jaar nogsteeds ‘n size 30 broek kan dra, want in my kas is daar baie van hulle en niks geld vir ander nie. Ons loop na die agterstoep en hy stel my voor aan al sy vriende. Willem het heelwat mense genooi en as ek so na die tipe wyn kyk wat die mense drink is dit duidelik dat ek die enigste een hier is wat van die Wes-Kaap afkomstig is. Dis ‘n lekker Sondag bring en braai en almal is reeds baie gesellig. Jazz musiek speel in die agtergrond. Die noorde stel sover nie teleur nie
Willem
Willem se swaer, Dawid, trek die braai nader. Dis ‘n oliedrom wat middeldeur gesaag is en op ‘n staalraam vas gesweis is. Dis presies hoe ‘n braai moet lyk. Hy sleep ‘n sak Woolworths charcoal nader. Dis toe dat ek opstaan en my stem dik maak. My pa het my geleer jy moet jouself gedra by iemand anders se huis, maar hy het my ook geleer jy braai nie met daai kak nie. En met daai kak het hy na charcoal verwys. Met min moeite oortuig ek toe vir Dawid dat nie eers Woolies se charcoal beter as hout is nie. Daar is ‘n regte manier van dinge doen en dan is daar charcoal. Ek pak die hout en hy steek die blits aan. Die geluid van ‘n vuur wat kraak gemeng met die gesang van vroumense wat skinder laat my die huis mis. Ek voel tuis hier.
Na lang gesprekke oor Orkney Snork Nie, Liverpool se sokkerspan en swart mense is die hout al amper uitgebrand. Dawid kry die vleis bymekaar en ek kan nie help om hom dop te hou nie. Dit is vir enige man moeilik om te kyk hoe iemand anders jou steak braai. Dalk is dit hoe dit voel om jou kind vir die eerste keer by die kleuterskool te gaan aflaai. Jy los een van die goed waarvoor jy die liefste is in die genade van iemand anders se hande en hoop net dit kom heel terug. Ek het nog net so paar ure met my rump deurgebring, maar ek is alklaar verlief op daardie pragtige stuk vleis. Blykbaar is dit ook basiese maniere om die ou wie se huis dit is te laat braai.
So lekker soos wat die hele braai ervaring is, is daar een groot probleem met die hele sisteem. Elke man het sy eie manier van braai, sy eie bygelowe en sy eie voorkeure. Ongelukkig kan ons Afrikaner mans nie ons trots sluk en by ‘n ander man se rëels en regulasies aanpas nie. ‘n Man word gemeet aan hoe goed hy braai, dit is nou maar net so. As ek ooit eendag ‘n dogter het en een of ander knaap wil my goedkeuring hê om met haar te trou, gaan hy homself eers voor die rooster moet bewys. ‘n Kêrel wat nie kan braai is ‘n onvolledige man en hy behoort homself te skaam oor sy tekortkoming.  Dalk moes ek bier gekoop het, dan sou dit makliker gewees het om nie op die braai te fokus nie.
Dawid beter my nie teleur stel nie, vandag wil ek lekker eet, die custurd moet uit my mond uitloop. Soos hy my steak op die rooster neer plak maak die kole die lieflikste geluide. Regte braaiers kan die taal wat kole praat verstaan en ons weet hoe belangrik dit is om na die hulle te luister. Dawid draai my steak om,  heeltemal te vroeg na my smaak. Ek kan nie meer nie, nou moet ek my opinie lig. Net soos ek wil opstaan om in te meng hoor ek hoe Willem van my praat, “Nee, hy kom van die Kaap af”.
 Dadelik vergeet ek van my steak en help vir Willem reg.
“Nee ek is nie van die Kaap nie ek is van Oudtshoorn!”  
“Dis dieselfde ding” skree Willem terwyl hy ‘n Marlboro rooi aansteek
“Dit is nie! Daar is ‘n goeie 400 km tussen die twee plekke. Ek sal weet. Ek het dit al baie gery, al in die aand ook!”.
Toe ek weer sien beland ek en Willem in ‘n argument oor waar die Kaap nou eintlik begin en eindig. Hierdie Transvalers dink mos enige iets suid van Bloemfontein is die Kaap, tipies. Sy vriende val in by die gesprek in en natuurlik kies hulle sy kant. Ek vertel vir hom dat dit nie meer 1982 is nie en Upington al lankal nie meer deel van die Kaap is nie, maar hy wil niks weet nie. Hy glo nog in die “Kolonie”. Nou raak ek moerig. Hierdie braai raak nou onplesierig. Ek mag nie my eie vleis braai nie, die honde blaf heeltyd en die mense praat sleg van my provinsie. Net toe die gesprek te warm raak skree Dawid uit die hoek uit: “Die kos is reg”. Almal hou op praat, kry vir hulle borde en gaan skep van die vleis. Die spanning van die argument het verdwyn, weg soos ‘n poep in ‘n orkaan. Goeie vleis het so ‘n manier om my te laat vergeet van alles wat my irriteer.
Ek bekyk my steak van nader, inspekteer hom noukerig met my mes en vurk. Dit lyk darem of Dawid weet wat medium beteken. Ek vat die eerste hap. Die vleis smelt weg in my mond weg soos ‘n Smartie in die Karoo son. Te heerlik. Ek weet nie wat hulle vir die beeste hier bo voer nie, maar hulle moet nooit weer vir hulle iets anders gee nie. Ek kyk na Dawid. Ek wil vir hom iets sê, sy braai vaardighede komplimenteer, maar al wat uit my mond uit kom is ‘n glimlag. Ek kyk na my maag, hy lyk baie groter as gewoonlik. Dit pla my nie eers nie. Vir gerieflikheidshalwe maak ek my belt en broeksknoop los, dit was meer kos as wat ek aanvanklik gedink het. Ek vat ‘n oomblik en dink weer aan my broer se pens-teorie. Dalk is dit nie so absurd nie, eet is bliksems lekker.  Willem het my genooi om volgende Sondag weer by hulle te kom braai. Lyk my ek sal groter broeke moet koop.  
--Phillip Berg

Tuesday, 28 August 2012

Wens jy het nooit gegaan nie

Ek kyk op na die hoë geboue. Meeste van die ruite is uitgeslaan, hulle kort hulp. Ek twyfel of daar enige wettige aktiwiteite daar binne plaasvind. Tyd dat ek hier weg kom, Johannesburg is niemand se vriend nie. Dis so skuins na 5 die middag en ek start my bakkie. Soos ek my seatbelt vasmaak begin die frontloader weer nommer 11 op die CD te speel,  presies waar hy 7 uur vanoggend opgehou het toe ek hier gestop het. Die Heuwels Fantasties se “Leja” is darm maar ‘n mooi liedjie. Die strate is besig, maar gelukkig vloei die verkeer. Ek ry in die pad af, verby lelike winkels en mense met onbereikbare drome. By die eerste verkeerslig draai ek links, in ‘n suidelike rigting, opsoek na die hoofweg wat my terug Pretoria toe sal neem. Nou wil ek net by die huis kom, dit was ‘n lang dag.
Die N1/M1 is die hoofslagaar van Gauteng en ek is nie die enigste een wat van hierdie roete afhanklik is nie. Duisende mans en vrouens wat hierdie Maandag hul bes probeer het om ander mense te beindruk gaan saam met my die verkeer aandurf en hopelik met genoeg energie by die huis aankom om daaroor te kla. In die verte sien ek hoe al die GP karre ophoop, net voor die oprit na die hoofweg. Hier begin dit, die lang sit. Oor ‘n paar uur gaan ek my 1ste rat en clutch baie beter ken.  Tyd is geld, en hier is mos baie geld in die Transvaal. Eweskielik onthou ek wat ek in my eerste jaar vir myself beloof het: ek sal nooit eendag in Gauteng bly nie. Niemand is perfek nie.
Na ‘n 15 minute is ek uiteindelik op die brug wat langs die stad loop. Aan my regterkant sit Joburg se geboue, groot en vaal. Net bo die stad is die son besig om te sak. Met my diesel Corsa bakkie sit ek in die middelbaan, want almal wil mos in die regterbaan wees. Gelukkig weet ek van beter, hierdie is nie my eerste keer nie. Ons beweeg stadig. Ry twee meter, stop vir 30sekondes, ry twee meter, stop vir 30 sekondes. Vandag gaan ek nog ‘n aar bars. Verkeer is nou een ding waaraan mens nooit gewoond sal raak nie. Of dit jou eerste keer is en of jy nou al vir 30 jaar elke dag drie ure agter jou stuurwiel deurbring, dit los altyd ‘n suur smaak in jou mond. Ons wil mos hier bo bly. ‘n Kurt Darren liedjie begin te speel oor my onder gemiddelde klanksisteem. Hoekom is “So bek kort jam” op hierdie CD? Met my linker wysvinger druk ek die next knoppie. Red Hot Chili Peppers, baie beter keuse.
Langs my is ‘n BMW Z5 en in dit is ‘n swart man met goue sonbrille. Sy musiek is kliphard, klink amper soos Backstreet Boys, net meer Afrika-rig. Op tye soos hierdie mis ek die Karoo verskriklik baie. Wat gewoonlik vir die verveeldheid help is om vir jou ‘n baken te kry sodat jy jou vordering kan dop hou. Soek ‘n voertuig in ‘n ander baan wat uitstaan dan kan jy seker maak jou baan is die vinnigste. Skyns voor my is ‘n blou Tazz. GP nommerplate met ‘n sharks sticker net bo dit. Dit is ‘n meisie wat lyk van hierdie afstand glad nie sleg nie. Hierdie Tazz is nou my baken en my doel nou is om verby hom te kom. Sover het ek nog net 1.4km gevorder, so ek het omtrent 63km oor voor ek by die huis is. Lieflik.
Hoe meer tyd ek in hierdie stad spandeer, hoe meer voel dit my ek kan nie hierdie plek vertrou nie. Daar is iets hier wat my ongemaklik maak. Dalk is dit al die onvoorspelbare taxis of die feit dat Eloff die duurste straat in monopoly was, maar elke keer as ek hier is, is ek twee keer meer skepties oor die samelewing. Soms voel Johannesburg soos daardie verskriklike mooi meisie wat saam met jou in matriek was. Sy is ordentlik en baie vriendelik met jou, maar jy weet nie eintlik hoekom nie. Dan begin jy haar intensies te bevraagteken en kort voor lank besef jy hierdie kat is nie kosher nie en dan hou jy haar noukerig dop. Ek weier om vir hierdie stad se vals glimlag te val soos die meisie in die Tazz langs my het. Ons plattelandse mense is al van kleins af geleer dat die stad ‘n lelike plek is waar net slegte goed gebeur. Wie is ek om met jare se wysheid te stry? Ek is net hier vir ‘n rukkie, net vir die dag. In en uit. Ja, ek gebruik net die stad vir my eie voordele, nes al die ander werkendes wat hierdie tyd van die dag in seatbelts geklee is.
My daguitsappies Johannesburg toe raak al hoe meer ‘n gereelde ding, en dit bekommer my. Ek kom selde hierheen vir plesier, meestal net vir werk. Dié stad betaal darm goed. Vandag moes ek in Doornfontein, die oostelike gedeelte van die middestad, deurbring. Dis nou nie die tipe plek waar jy eendag jou kinders wil leer om fiets te ry nie, maar eerder vir hulle leer hoe om so vinnig as moontlik te hardloop. In sekere dele van die middestad lyk dit of elke gebou op dieselfde dag opgerig is. Die argitektuur vertel jou met ‘n hartseer toon dat hierdie stad al beter dae gesien het. Jare gelede was die Rand ‘n plek waar drome waar geword het.  Deesdae sit ons in die verkeer en wonder oor wat ons vir aandete gaan maak. Ons almal se drome word nogsteeds hier waar, maar dalk laat hierdie stad jou êrens langs die pad besef jy hou nie meer van jou eie drome nie. Hierdie is ‘n stad gebou op almal se selfsugtige agendas en dis vir my moeilik om enige eerlikheid of liefde hier raak te sien. Johannes Kerkorrel het hard probeer, maar niemand wou hul harte vir Hillbrow gee nie. Ek sou ook nie, dis ‘n baie kak plek daai.
Johannesburg  het heeltemal ‘n ander geur as Kaapstad. Behalwe vir die tekort aan berge is die mense hier ook baie anders. In die Kaap is almal opsoek na ‘n plekkie in die son, maar hier staan almal gereed met sambrele vir ingeval dit reën. Hierdie is die tipe Suid-Afrika wat jy op advertensies sien. Ek onthou as kind het ek nooit verstaan hoekom daar enige mense in Gauteng bly nie. Daar is nie ‘n see nie en almal op Egoli is heeltyd ongelukkig. Tot Chris Edwards met sy  bottemless whisky bottel lyk of hy die plek haat, maar dalk was dit net Louwna wat hom so ontstel het.
Op universiteit het ek besef dat die enigste rede hoekom mense hul siele aan hierdie stad gee is vir die geld. Meeste studente het romantiese drome oor hul toekoms: dalk werk soek in ‘n klein dorpie in die Boland tussen die wingerde vir min geld, of dalk eers toer en die wêreld sien. Dis nie lank nie dan verdwyn daardie fantasië en hulle kry sulke Dollar tekens in hul oë. Wie is ek om neer te kyk op hulle, ek het presies dieselfde gedoen. Nommer 11 begin alweer te speel. Een CD is duidelik nie genoeg vir die hierdie verkeer nie en Die heuwels Fantasties se Leja raak nou afgesaag. Kan hierdie ouens nie net ophou kla nie? Bliksem man niemand gee om oor hulle liefdeslewe nie. Next, Kings of Leon. Nou dis baie beter.
Ek is nou voor die blou Tazz. Sukses! My baan is die vinnigste. Vat so BMW Z5 aan my linkerkant, jou Woolworths microwave kos moet eers wag. Ek maak perongeluk oogkontak met die meisie in die blou tazz. Sy lyk glad nie gelukkig nie. Haar hare is rooi gekleur en dit lyk of sy die naweek te veel gerook het. Dalk ‘n paar Brutal Fruits te veel afgesluk het. Sy is nie eintlik so mooi soos wat ek haar geskat het nie. Dis ‘n probleem wat te veel in Gauteng opduik. Dis duidelik dat hierdie Maandag haar onder gekry het. Sy het nie eens haar veiligheidsgordel vasgemaak nie, swak. Nou wonder ek by myself: hoekom is sy hier? Sit sy elke dag in die verkeer of het dit net perongeluk met haar gebeur soos wat dit met my gebeur het? Het sy ook net vir die dag in gery? Teminste het ek nie 'n GP nommerplaat nie, ek is hier op geleende tyd.
Meeste van die motoriste om my het seker nie ‘n ander keuse as om hier te sit nie. Mens moet eet. Ongelukkig kan ons nie by die huis bly nie, anders gaan Telkom, Multichoice of wieokal ‘n paar groot Nigeriërs na jou huis toe stuur. Dis hartseer, maar dis hoe dit hier werk. Johannesburg het alles wat jy nodig het, maar die prys wat jy betaal vir daardie gerieflikheid is hoër as wat meeste mense besef.  Hoekom laat mense die samelewing toe om hulle so aan die ballas te gryp en dan met die grootste boelie stem te sê: “fluit”? Hierdie meisie in die Tazz lyk soos ‘n slaaf, iemand wat nie eens besef daar is ‘n beter lewe daar buite nie. Dinge kan nie so aanhou nie, ek sal nooit eendag ‘n Transvaler wees nie.
Hierdie verkeer raak nou te erg en Pretoria is nog ver. Vir die eerste keer wens ek het nooit die Kaap verlaat nie. Shit happens. Agter die geboue kom die son baie laag uit. Vir ‘n oomblik vergeet ek van alles wat my pla, die verkeer, die stad en die BMW se aaklige musiek. My aandag raak weg in die oranje kleure wat oor die Hoëveld se horison lê. Ek het al baie sonsordergange gesien in my lewe, maar hierdie is defnitief top 5. Dalk is die Transvaal nie so ‘n slegte plek nie? Dalk moet ek net gewoond raak aan hierdie mense se manier van dinge doen. Dalk is ek net ‘n Karoo seuntjie wat vinnig afgeskrik word deur so baie faktore waaroor ek geen beheer het nie. Dalk moet ek net groot word.
‘n Entjie voor ons begin die karre spoed op te tel. Kan die verkeer dan nou al verby wees? Na net 3km? Soos ek uiteindelik na my 2de rat oorskakel sien ek die oorsaak van die verkeersophoping. ‘n Trok het tot stilstand gekom in die middelbaan en dit het die hele vloei opgevoeter. Daar was toe eintlik geen verkeer nie, net ‘n sensetiewe enjin. Alles is nou weer oraait. Met die son wat sak ry ek huis toe met ‘n glimlag en ‘n kalm gemoed. Ja nee, die Tranvaal is glad nie so kak nie, ek sal langer hier bly. My linkerwysvinger skip terug na nommer 11, want “Leja” is ‘n blerrie mooi liedjie. Die meisie in die tazz ry verby my. Sy glimlag breed.

--Phillip Berg

Monday, 9 July 2012

Onthou die kaartjies

Die son is al hoog en dis lekker warm, wie sou kon raai dis winter. Hier is mense wat skree en te veel  mense in pienk. Vir die eerste keer vanaf ek in Gauteng bly voel dit my ek het die regte Pretoria ontmoet. Ek sien al lank uit na hierdie dag. Na die bier, die vleis en heel belangrikste, die rugby. Dit gaan ‘n goeie dag wees. Saterdae middae is mos kerk en ons het kaartjies vir dié jaarlikse erediens op Loftus. Wat ‘n groot affêre. Ons het oorkant Loftus op een van die Afrikaanse Hoër Seunskool (affies) se rugbyvelde geparkeer sodat ons ordentlik kan opwarm voor die groot stryd. Die mense hier staan gereed met hul nagmaal brandewyn om later te kyk hoe die Bulls die Stormers pak. Dis die Noord-Suid derby en ons manne is reg vir die rugby, vanmiddag. Dit gaan groot wees. No losers, only survivors.
Ons drink Castle, want dit is wat jy drink as jy sport kyk. Ons braai ‘n pak boerewors, want ons is arm. Dis my eerste keer hier en ek is meer opgewonde as ‘n Karoo boer met ‘n vol dam. Terselfdetyd is ek ook senuweagtig. As ‘n stoere WP ondersteuner vrees ek dat ek dalk net vanmiddag my mond verby gaan praat. As die castle so maklik vloei kan ek nogals bekkig raak, veral om ‘n rygbyveld. Ons Wes-Kaap mense is mos nou nie eintlik die grootste ondersteuners van die ligblou manne nie, en hulle nie van ons nie. Ons haal ons miniatuur braai uit en pak hom vol hout. Ja, hout, sodat die mense in die pienk truie kan sien vir watter span ons skree. Die leë castle blikkies langs ons kar raak al hoe meer en ek kan nie meer wag vir die afskop nie.
My house-mate en kollega, Joey, gaan saam met my later die oospawiljoen aandurf. Hy is nie eintlik ‘n ou vir hierdie tipe geleenthede nie. Sy kas is vol skinny jeans en die band waarin hy speel skree te veel vir hul eie bes wil. In die 5 maande wat ek al saam met hom bly kyk hy darm al meer gereeld rugby en vra my ook gedurig uit oor die rëels by die afbreekpunte. Ek dink ek het ‘n groot bydra gelewer tot sy nuwe entoesiasme oor sport. Hy is maar ‘n rustige ou, maar hy skree op sy hardste as iemand ‘n drie druk, maak nie eers saak watter span dit is nie. Dit gaan lekker wees om my eerste Loftus ervaring met hom te deel, want dit voel my hy glo altyd alles wat ek sê. So as ek vir hom sê om die Bulls te haat, dan volg hy graag my raad.

Joey sê hy is reg vir nog 'n bier
Soos Joey vir ons nog biere uit die coolerbox kry kom groet die twee manne wat by die kar langs ons kuier. Vriendelike ouens, Piet en Frank stel hulle hulself voor. Piet is van Brackenfell in die Kaap en Frank is van Montana in die noorde van Pretoria. Hulle twee is neefs wat altyd saam kyk as die Stormers of die WP teen die Bulls speel. As dit in die Kaap is vlieg Frank af, en Piet vlieg op as dit hier bo is. Dis blykbaar ‘n ou tradisie wat hul ouers begin het. Piet dra ‘n WP trui en Frank het ‘n Bulls trui aan van 2007, daai jaar wat hulle vir die eerste keer die Super 14 gewen het. Frank hou net aan oor hoe die Bulle vanaand amok gaan maak teen die Stormers se meisie agterlyn en kleuterskool voorspelers. Piet is stil, hy sê ons sal na die tyd kyk wie lag. Die Castle maak ons almal gesellig. Joey glimlag breed maar hy praat nie veel nie. Toe Frank uitvind dis my eerste keer op Loftus vertel hy my van die drie dinge wat jy nodig het om hier te oorleef: ‘n liter brandewyn, 2 liter coke en ‘n 3liter Ford. Ek het geen idee wat hy daarmee bedoel nie, maar dit maak my bietjie skrikkerig.


Piet en Frank. Ek het geen idee wat hul van is nie

Na 3 worsrolletjies en amper 2 six packs gaan kry ek my baadjie in die kar, dis tyd om stadion toe te loop. Ons loop verby karwagte, ooms met horings op hul kop en laaitjies met rugbyballe. Ek kan sien Joey voel bietjie ongemaklik tussen al hierdie mense, maar ek dink hy kan dit hanteer want hy kom van Vereeniging af. Soos ons nader aan die spreiligte kom sien ek dit groot voor my: Loftus, die Pretoria paleis. Ons almal het al die stories gehoor van dié plek. Van naartjies gooi tot tannies met perms wat jou wil tackle as jy iets sleg oor Morné Steyn skree. My broer se kamermaat van universiteit het my vertel hoe iemand hom in 1998 tydens die Currie Cup finaal met ‘n hosepipe nat gespyt het omdat hy ‘n WP trui aangehad het. Dis alles dalk net spookstories, maar dit werk. Die plek is donners intimiderend. Dis asof die mense hier kan ruik dat jy vir ‘n ander span skree. Elke groot rugby ondersteuner weet dat dit jy een of ander tyd in jou lewe hier moet rugby kyk. Loftus het te veel tradisie, te veel stories en te veel misterie om nie hier ‘n draai te maak nie. Dis nie altyd lekker nie, maar dis iets wat jy moet doen.

Die mense langs Loftus hou nie van die Kaapse streekspan nie
 
Ons kom by die hek, sit ons kaartjies in die masjien en gaan soek vir bolk CC. Ek kyk rond, maar ek sien nie die standbeeld van Naas Botha nie, ook nie vir Steve Hofmeyr nie. Na ‘n lang gesukkel kry ek ons net betyds ons sitplekke. Dis net so duskant die verkeerde kant van die kwartlyn, maar ons kan darm sien wat aangaan. Agter ons sit ‘n paar omies met wilde snorre. Dis duidelik vir watter span hulle skree. Die Stormers hardloop op die veld en ek is verbaas met hoe baie toeskouers hulle toejuig. Dan kry die mense hul vlae reg vir die Bulls. Dewalt Potgieter hardloop op sy eie by die tonnel uit, want dit is sy 50ste Super wedstryd. Die res van die Bulls volg dan met ‘n hoë spoed en die skare juig. Dis op die daardie oomblik wat ek vir die eerste keer in my lewe gewens het dat ek eerder kleurblind was. Ek het al lelike goed in my lewe gesien, goed wat ek liewers wil vergeet. Daardie pienk nommers van die Noord Transvaal is defnitief bo aan die lys en laat ek julle nou vertel, hulle lyk baie erger in lewende lywe as op die kassie. Hulle skop af. Die Stormers beter wen, ek sal te bang  wees om hier weg te stap as hulle nie het nie. Soos die manne daar onder op die veld mekaar moer toe duik, dink ek aan al die vorige kere wat ek by so ‘n groot rugby wedstryd was. Nou is daar net een ding op my brein: my geliefde WP se tuisveld, Nuweland.

Nuweland rugby stadion is verseker een van my gunsteling plekke in die wêreld en ek onthou nog goed die eerste keer wat ek daar was, Junie 1995. Die Springbokke het teen ‘n WP uitnodigingspan gespeel as deel van hul voorbereiding vir die Wêreldbeker. Leon Schuster se “hie kommie Bokke” album het net uitgekom en elke kar buite die stadion het dit met ‘n oop kattebak so hard as moontlik gespeel. Ek was 6 jaar oud en ons het op die skolierebankies (wat deesdae nie meer bestaan nie) gesit.  Ek kon nie minder omgee oor die rugby nie, maar vir ‘n laaitjie van die platteland is dit altyd lekker om tussen so baie mense te wees, veral as hulle raas. As ek terug dink aan daardie dag was die hoogtepunt nie die berg, trein of Chester Williams nie, maar toe ons na die wedstryd oor die veld gehardloop het. Deesdae laat hulle dit nie meer toe nie. Al het ek nie daardie dag verlief geraak op die streeptruie nie, was dit vir my onvermydelik om ‘n WP ondersteuner te raak, veral in my familie.
My broer, my ma en my pa is sport befok. Of dit nou rugby, tennis, F1, golf, krieket of watookal die hoogtepunt van die naweek is, my familie sal dit kyk. Behalwe sokker, want ons NG kerk mense, en my pa was vir lank ‘n ouderling. My broer is ‘n walking, talking  ensiklopedie van Suid-Afrikaanse rugby en krieket, hy weet alles. Vra hom gerus wie die voorry van die WP was in 1986 toe hulle die Currie Cup gewen het of hoeveel honderdtalle Gary Kirsten al op nuweland geslaan het, hy sal jou heel moontlik kan sê. Amper alles wat ek van sport weet het ek by hom geleer. My ma ken seker meer rugbyreëls as die ouens wat vir die Griekwas speel. En my pa, wel hy hou net daarvan om op die spelers te skree. “Daai donnerse Bekker! Wat soek hy daar? Hy doen dit elke blerrie game!” sal hy skree as ou Andries die bal in die agterlyn nok.  Hy glo ook die span wat eerste punte aanteken gaan die wedstryd verloor. Mens kan nie met hom daaroor stry nie.
Dis rustyd en die Bulls loop voor. Dit lyk nie goed vir die Stormers nie, maar hulle is darm nie te vêr agter nie, een drie sal genoeg wees vir ’n wen. Oor die luidsprekers weergalm die woorde van Leon Schuster: “Was jy ooit al daar op Loftus as dit vol is en dit rof is?”. Hy het ook ‘n liedjie vir elke span. Die spelers draf weer op die veld uit en dit het eweskielik baie koud geraak. Joey begin lyk of hy verveeld raak, maar hy hou vol dat hy homself geniet. My aandag begin self ’n bietjie te dwaal.  Aan my regterkant kan ek die Unie gebou in die verte sien en aan my linkerkant blink die liggies van Brooklyn. Ek is mal oor sport. Daar is min goed so lekker soos om tussen 40000 mense te sit en te skree op 30 ouens wat almal agter die dieselfde bal aan hardloop, maar hierdie 2de helfte is nou nie mooiste rugby wat ek al gesien het nie.  Ek kyk toe maar langs die veld na daardie oulike meisies met hul wilde danspassies. Die rugby is dalk nie te interessant nie, maar hierdie dames geniet dit. Dis toe alles verander.
Soos ek die donkerkop derde van links uitkyk sê iets in my agterkop vir my om na die game te kyk. Die Stormers se agterlyn is al weer vol voorspelers, tipies. My pa vloek seker nou baie hard daar by die huis. Toe besluit die reserwe slot om die vlakste aangee ooit uit te stuur na die buitekant. In die hoek van my oog sien ek die Bulls se senter wat rats op die bal afstorm.  Hier kom ‘n onderskep drie, tipies, hulle leer mos nooit nie. Soos ek negatief raak sien ek dat die Stormers flank, Siya Kolisi, net-net die bal gekry het en dat die Bulls se senter nou uit posisie is. Hy is soos ‘n vlinder deur die gaping. Hardloop Bliksem, Hardloop! Ek spring op van blydskap en skree so hard soos wat ek kan. Ek kan voel hoe die omies agter my kwaad raak. Kolisi is in volle vaart oor die kwartlyn reg voor ons, maar die Bulls se heelagter nael op om af. Hy gee vinnig die bal uit na Habana langs hom, toe spring Joey ook op en begin sy longe uit te skree. Onder die pale, 7 punte in die spreekwoordelike sakkie, dankie Bryan. Ek en Joey gryp mekaar en gee mekaar ‘n drukkie soos 2 mans nog nooit mekaar op Loftus gedruk het nie. Die omies agter ons lyk redelik befok. Tyd om stil te bly sê ek vir myself.

19 -14, ‘n wen op Loftus verdien ‘n beker, 'n mooi goue een. Ek was drie jaar terug op Nuweland toe die WP teen die Bulls verloor het in beseringstyd in ‘n Currie Cup semi-finaal, maar al die pyn van daardie dag is nou vergete na hierdie ongelooflike oorwinning. Buite die stadion is daar ‘n paar lang gesigte, meestal mans gekleë in pienk. In die verte sien ek vir Frank en Piet wat terug in Affies se rigting loop. Frank lyk glad nie gelukkig nie. Mens hoef nie eers die rugby gekyk het nie, die uitdrukking op sy gesig vertel die hele storie. Dit lyk of iemand sy 3l Ford Ranger gesteel het soos hy frons. Piet stap ’n entjie agter Frank en hy lyk glad nie so haastig nie. Sy liggamstaal vertel ‘n ander storie, die storie van ‘n iemand wat nou net uitgevind het hy hoef nie inkomstebelasting te betaal nie. Al is dit nou doners koud het Piet sy baadjie in sy hand en hy adverteer daardie rooi disa op sy bors met trots. Hy glimlag breed.

--Phillip Berg
Hierdie ou eet van die vloer af





Tuesday, 22 May 2012

Vat die Karoo saam met jou (deel 2)

Daai geluid. Daardie fokken geluid. Ek haat dit as my wekker een of ander early bird is wat vroeg grassny op ‘n saterdag oggend. Welkom terug in Oudtshoorn. Besef hierdie oom nie dis KKNK en party van ons het gisteraand ons plig gedoen en gaan drink nie? Dis my eertse dag by die huis en dit klink of ‘n motorfiets rond jaag in my brein, en dis nou nie net die brandewyn se skuld nie. Al is die gedruis ‘n entjie weg, voel dit of hierdie persoon besig is om die mat onder my bed te verwyder met sy wheat eater. Party mense werk mos hulself Maandag tot Vrydag moer toe net om saterdae weer te werk. Dis die lewe waarna al ons jong mense kan uitsien. Te lekker.
So onaangenaam soos wat hierdie is, is dit glad nie iets vreemd nie. Dis hoe ek as kind meeste Saterdae wakker geraak het. Partykeer was dit my eie vader wat onder my eie kamervenster die rante getrim het. Ek het altyd gedink dis baie ongeskik van die omies om so vroeg op naweke te raas. Dis die enigste dag van die week wat ek kon laat slaap aangesien my ma my Sondae uit die bed gejaag het kerk toe. In hulle oë is ek die weird ene wat tot 11h wil lê. Laat slaap is amper erger as rond slaap op die platteland. As die son op is, moet jy ook wees. Die plek verander ook nooit nie, maar dis hoekom ek daarvan hou.
‘n Eenvoudige geluid kan jou laat terug dink aan baie goed uit die verlede. Op skool het my ma elke oggend die radio harder gesit sodat ek kan wakker word van RSG se nuusdeuntjie. Dit was die aakligste wysie in die wêreld. Sy het dit seker ook gehaat, maar dit was al wat my uit die bed uit kon kry. Weeksdae as jy die Egoli liedjie hoor dan weet jy dis tyd vir open time se sitcoms. Ek het dit nooit gemis nie. Al was dit that 70’s show , The Simpsons of Malcolm in the middle, 18:30 was my tyd voor die televisie. Dan, die ergste televisie tune ooit, die Carte Blanche song. Elke Sondagaand het daardie melodie jou herinner jou naweek het net ‘n M-Net fliek oor, dan is dit verby, Maandag wag vir jou. Ruda Landman en Dereck Watts het ‘n countdown begin tot ons vryheid opraak. Lae bliksems. Deesdae is dit net die Egoli liedjie wat jy nie meer hier kan hoor nie. Ek kan nie besluit of ek hierdie goed mis of nie.
Die bure se gras is nogsteeds nie klaar gesny nie so ek staan maar op en gaan maak vir my koffie. Ons kombuis verander ook nooit nie en meeste van die goed daarin is ouer as ek. Die microwave, stoof, yskas en wie weet wat nog was trougeskenke aan my ouers destyds, en ek is amper seker daarvan hulle het getrou vóór Mandela tronk toe was. My ma sal nooit iets nuut koop as die ou een nog werk nie. Ons yskasliggie het laas gewerk toe ek in Sub.A was, maar die kaas bly darm koud. Soos julle kan indink het ons kombuis ‘n sterk bruin en oranje tema. Glad nie tydloos nie, dink ek soos ek my koffie roer. Blommetjie patrone op byna alles.
Die platteland is nou nie almal se happie koek nie, maar ek is verskriklik dankbaar dat ek hier groot geraak het. My broer het my al baie dinge geleer (soos ‘n ouer broer moet), en kan goed onthou wat hy vir my eendag gesê het in my eerste jaar op Stellenbosch: “Mense wat van die Platteland af kom het ‘n voordeel bo die wat van die stad af kom”. Ek het dit nooit verstaan nie, maar deesdae maak dit sin. Van binne die huis hoor ek rugbygeluide, dit bevestig dat dit Saterdag is. Ek vat my koffie en die koerant en loop by die kombuisdeur uit.
My gunsteling plek in die wêreld is sonder twyfel die agterplaas van my ouerhuis. Botha Straat 35, Oudtshoorn. Dis nou nie die coolste backyard in die wêreld nie, maar dis ons s’n en niemand kan jou daar pla nie. In plaas van ‘n swembad of ‘n oulike stoep is daar ‘n naartjie boom en ‘n kompos hoop. Ja ‘n kompos hoop. My pa hou baie van tuin maak en ordentlike grond is skaars in die Karoo. Die grasperk lyk altyd mooi en dis ‘n perfekte plek om koerant te lees in die oggende. Veral in die winter, dan sit ek altyd in die Karooson en bak soos ‘n akkedis op ‘n klip.
Die bure se gras is nou darm klaar gesny. Vrede. Agter ons erf is daar landbougrond wat ons buurman besit.  Al wat sy volstruise, skape, ganse (of wat ook al die dier van die week is) weg hou van ons naartjies is ‘n eenvoudige ogiesdraad wat net hoog genoeg is sodat jy nie daaroor kan spring nie. As jy teen hierdie ogiesdraad staan en uitkyk oor die wêreld word jy nogals bederf.  Dis ‘n mooi uitsig en in die verte lê die Swartberge wat altyd ‘n ogie hou oor die Klein Karoo. Alles is stil, niks geluide nie, hier kan ek dink. Mens se brein werk beter sonder nie konstante klanke van die samelewing wat jou gedurig herinner dat jou tyd op hierdie planeet is besig om uit te loop.

Volstruise agter ons agterplaas

Hierdie klein eenvoudige stukkie wêreld was nog altyd vir my ‘n plek waarheen ek kon ontsnap. Dit het vir my ‘n wegkruipplek gebied van al die dinge wat my pla, ontstel of irriteer. Ek onthou toe ek baie klein was het ek êrens in die huis kak aangejaag en my pa het my gevang. Hy was briesend en hy wou my bykom. Gelukkig is my pa vet so dit is nogals maklik om van hom weg te kom.  Ek het so vinnig soos wat ek kon weg gehardloop en agter die naartjieboom gaan wegkruip. Hy het my nie gekry nie, of hy wou nie, ek is nie heeltemal seker nie. Die naartjieboom het my ‘n kans gebied om te wag tot my pa afkoel, dan sou ek terug gaan huis toe en in plaas van ‘n pakslae het ek net ‘n ongemaklike preek gekry. Dit het elke keer gewerk.
Die enigste probleem met hierdie wegkruipplek was, dit het ‘n gewoonte raak. Elke keer as iets my gepla het, het ek in ons agterplaas gaan ontspan met ‘n koppie koffie.  Soms as die “akademie” in Stellenosch te veel geraak het was dit net te maklik om vir ‘n naweek Oudtshoorn toe te gaan. Toe ek nog in Kaapstad gebly het en my geld op was na ‘n groot naweek het ek vinnig ‘n lift gerëel huis toe. Gerieflik is ‘n goeie woord om nou te gebruik. Ek het ‘n wegkruipplek gehad, en ek het gou agter gekom hoe hartseer dit is. Iets moes verander. Ek kan nou nie vir jou sê dis die rede hoekom ek besluit het om Pretoria toe te trek nie, maar die het bygedra tot daardie groot keuse. ‘n Verandering was nodig.
Vroeg in my lewe het ek al besef dat ek nie van verandering hou nie. Daar is iets wat my gemaklik maak as ek die toekoms kan voorspel, en in Oudtshoorn is dit nie baie moeilik nie. Die dorp verander ook maar selde. As ‘n pad hier oorgeteer word is dit ‘n groot ding, tot die dominee noem dit in sy gebed. Die mense hier verander ook nooit nie, hulle almal is so voorspelbaar soos die alfabet. Dis hoekom dit so uiters belangrik ir elke kind is om die dorp te verlaat na skool. In hierdie woestyn is dit nie net plante wat sukkel om te groei nie, maar lewenservaring ook.
Pretoria bied by my ‘n kans om verandering te omhels en dit te bevriend. Dit is nie te maklik nie. Hierdie is die derde stad waar ek bly vanaf ek destyds Oudtshoorn verlaat het. In elkeen van hierdie plekke was die mense die grootste aanpassing. Lank terug het ek al vrede gemaak met die feit dat ek nooit eendag myself in die platteland gaan vestig nie, tog alles wat ek in die Karoo geleer het probeer ek elke dag saam met my dra. Dis die klein goedjies wat saak maak. Jy kan baie tekortkominge vind as jy die Oudtshoorn mense goed bestudeer, maar jy kan nie iets sleg van hulle sê nie.  As hulle vroeg die oggend die gras sny is dit dalk irriterend, maar as jy mooi vra sal hulle dalk jou help met jou gras ook. Aangesien jy in die platteland almal moet ken, moet jy ‘n aangename mens wees, of jy nou wil of nie. In ‘n stad is dit soms net te maklik om te wees wie jy wil, te overdwyn en elke dag te verander.
Ek was al in fancy uitgaanplekke in Kampsbaai waar cocktails meer as ‘n Vuka scooter kos. Ek was al in Klub Perd by Oudtshoorn se skougronde waar die barman saam my broer in die laerskool was. Een ding het ek al geleer: die coolste katte bly tussen die vullis. Maak nie saak wie of wat jy is nie, solank jy ‘asseblief’ en ‘dankie’ sê sal jy oraait wees. Mense daar buite besef nie dat die lewe sal nooit ophou om ‘n gejaag na morê te wees nie, so jy kan net sowel vriendelik wees met die ou langs jou. Parykeer moet jy stop, jou koffie geniet en na die berge kyk. Dis dalk omdat hier nooit enige iets gebeur nie, maar in die platteland geniet jy die oomblik. Dit hou die siel gesond. In Oudtshoorn kry jy mens-mense. Sout van die aarde. Dis dalk hoekom die Karoo so droog is. En dit sal nooit verander nie.
My koffie is klaar en ek stap die kombuis binne. Die kos ruik lekker, dis goed. Brandewyn maak mens honger. Ek weet presies wat my ma maak vir ete, want sy verander nooit haar roetine nie. Donderdag gaan sy hoender maak, soos sy seker al die afgelope 20 jaar doen. Die mooi aanhaling sê: “verandering is net so goed is soos ‘n vakansie”. Ek hoef nie te verander nie, ek vat net ‘n vakansie Oudtshoorn toe, want dis net so goed.

--Phillip Berg