Sunday 11 March 2012

Pas aan


Jy sien haar, jy glo nie sy is daar nie. Sy sê vir jou iets mooi, jy glo nie dit is waar nie. Sy flirt met ‘n ander ou, nou kan jy nie bedaar nie. Blerrie ex-meisies. Party dae voel dit hulle is net daar om in jou slaai te krap, om jou bloed te laat kook. Ek weet ek raak heel befok as ek my ex sien, en ek weet nooit of dit befok kwaad of befok spyt is nie. Al wat ek weet is, vermy die ex, maak nie saak wat nie moenie met haar kontak maak nie. Daar is redes hoekom dit verby is, vergeet van alles. Partykeer is sy nie eers daar nie dan mors sy met jou.

So ‘n paar jaar terug was ek besig om ‘n meisie te laat val vir my. Vir kopiereg doeleindes kom ons noem haar Sarie. Sarie was great en ek het verskriklik baie gehou van haar en haar lekker ass. Sy het my laat voel soos Brad Pitt en maak nie saak wat ek gedoen het nie, sy het aan my gehang soos 'n mossel in hoogwater. Een aand vat ek haar uit vir ‘n drink, net ‘n lekker rustige drankie sodat sy darm kan weet ek wil saam met haar in die publiek gesien word, dis hoe into haar ek was. Ons gesels heelaand baie lekker, oor alles van musiek tot movies tot kook, maar toe eweskielik begin sy my uitvra oor my ex. Dis nooit lekker vir enige ou nie. Vir kopiereg doeleindes kom ons noem my ex Wilma.

Sarie het geweet daar was ‘n Wilma, en hoe meer sy uitvra hoe vinniger raak sy omgekrap. Sarie maak toe wilde claims dat ek nog nie oor Wilma is nie en ek verseker haar dat ek nie kan minder omgee oor die meisie wat my hart destyds gebreek het nie. Tipies soos vroumense maar is was dit nie lank nie toe was ek diep in die kak, sonder dat ek enige iets gedoen het, alles blerrie Wilma se skuld. Sarie wou nie eers vir my kyk nie. Met my mooiste gesig kyk ek toe Sarie diep in die oë en ek beplan hoe ek vir haar gaan sê:”Sarie, jy verbeel, ek hou niks meer van Wilma nie”. Stadig draai Sarie haar gesig na myne, sy glimlag en ek gooi my line: “Wilma, jy verbeel jou…”. O fok! Dit was soos ‘n atoombom wat val, reg op my toekomsplanne met hierdie meisie en dit laat niks staan nie. Sarie blimsem, nie Wilma nie! Fok tog! Vir ‘n oomblik het ek gedink sy gaan my klap, maar sy het net my hand gelos en geloop. Daar gaan daai hot ass.

Hier sit ek nou 2jaar later op die stoep en kyk oor Pretoria, die plek waar ek nou probeer iets maak van my lewe. Dit lyk mooi, dit lyk groen, baie bome hier. Niks van my ex’s nie. As jy soos ek van ‘n semi-woestyn af kom is hierdie groen een van die mooiste goed wat jou oë kan waarneem, dit en vloedwater. Ek kyk nou nie na ‘n see of ‘n berg of ‘n windpomp nie, maar hierdie uitsig wat ek geniet terwyl ek my koffie en my slap weet-bix afwerk is nogals asemrowend. Ek kan van die Voortrekker monument tot by die Unie gebou sien. Loftus se spreiligte pronk ok daar in die middel en die Telkom toring laat dit lyk of hierdie stad ‘n ereksie het. Soos ek staar na die geboue in die verte mis ek die dae wat ek na die kaap se stad gekyk het vanaf die voet van tafelberg.
"Ek het jou lief soos die Kaap"


Ek is nou al ‘n paar weke in ons land se hoofstad. Dis lekker, ‘n anderste tipe lekker, nie die tipe lekker wat jy op die strand of in ‘n bier sal kry nie. Meer soos daardie tipe lekker wat jy kleintyd in ‘n inkleurboek gevind het met jou 24-kleur potloodstel terwyl jy lag vir die losers wat net 12 kleure het. Dis ‘n lekker wat ek waardeer omdat dit baie eerlik en eenvoudig is. In 2010 was daar berig daar Kaapstad een van die wêreld se top toeriste bestemmings was. Dit het mooi opgesom wat my gepla het van die kaap. Dit is ‘n vakansieplaas wat almal oor die wêreld deel met mekaar, ‘n baie afgewaterde ervaring as jy my vra. Amper al die vriende wat ek al hier gemaak het is Pretoria born and bred en moerse trots op die plek en wat dit is. Hulle is daai tipe mense wat presies vir jou sal kan sê wanneer kerkplein se eerste baksteen gelê was of watter voortrekkers hier agtergebly het, maar vra hulle wie is die voorry van die bloubulle dan het hulle nie ‘n clue nie. Dit maak nie saak nie, hulle weet meer van Pretoria as wat Kapenaars weet van die Kaap.

As hulle so praat van die plek en sy geskiedenis voel die Wes-Kaap en alles wat ek ken donners ver weg en ek kan nog nie besluit of ek die berge en die colourds mis of nie. Ek kan nie help om hierdie stad heeltyd te vergelyk met Kaapstad nie. Natuurlik hou die Pretoria mense nie daarvan as ek heeltyd so oor my ex-stad praat nie. “Kom oor dit, bra” sal hulle sê en vir my ‘n skewe kyk gee asof dit my idee was om hierdie plek se naam te verander na Tshwane. Ek dink nie hulle verstaan dat die kaap my huis was vir ‘n lang tyd en dat dit moeilik was vir my om dit te agter te laat nie.

Dit voel of ek onlangs met my meisie van drie jaar opgebreek het en toe binnekort daarna ‘n nuwe liefde gevind het, so heel skelm. Ek was nog nooit goed met verhoudings nie. Drie jaar is lank, daar was goeie tye, daar was slegte tye. Party dae wonder ek of Kaapstad nog aan my dink soos ek aan haar dink, of sy dalk wonder hoe dinge sou uitdraai as ek haar nooit gelos het nie. Dis snaaks hoe jy na die tyd as als verby is maklik foute kan sien wat jy nie kon sien toe jy daar was nie. Ek gaan nie jok nie, ek en Pretoria is nou saam en die plek is great, maar ek voel nog iets vir die goeie ou Kaap. Dis dalk ‘n problem, Sarie en Wilma was nog nooit eintlik vriende nie.  

Pretoria is baie anders as wat ek verwag het en ek het nog nie een keer vir Steve Hofmeyr gewaar nie. Ek het gedink hy gaan oorals wees. Natuurlik het ek hierheen gekom met voorafgestelde idees oor hoe die plek gaan wees, en baie van daardie idees is waar en ander is weer onwaar. Kom ons begin by die lugdruk, ek dink dis ‘n pot stront. Ja Gauteng is meer is ‘n kilometer hoër as die see, maar vandat ek hier is het my lynskoppe nog nie verder as gewoonlik getrek nie en ek het nog nie vinnger uitasem geraak as ek gaan stap, ‘n frikkie vang of Noot vir Noot kyk nie. Teleurgesteld is ‘n understatement! Nog ‘n ding wat ‘n ouvrou storie is, is die sogenaamde Pretoria aksent. Van al die mense wat ek hier ontmoet oorrond niemand hul klinkers nie, nie eers die aptekers nie. Almal praat soos normale mense en almal kom redelik intelligent voor. Having said that ek was nog nie in Pretoria-Noord nie, daar mag dit dalk anders wees.

As ek die verskil tussen die Kaap en Gauteng kan probeer verduidelik gaan ek dit doen met braai as my voorbeeld. Die Kapenaar sal ‘n groot vuur maak, wag tot dit uitgebrand het en dan amper ‘n halwe slaghuis braai net soos wat hy dit wil hê. Die Gauteng persoon sal vining ‘n paar stukkies charcoal aan die brand kry en dan ‘n worsie gaar maak en eet. As die Kapenaar ooit vir die Gautenger vra hoekom gebruik hy charcoal gebruik en nie hout nie sal hy spoedig antwoord: ”Dis baie vinniger”.

Een ding kan ek verseker sê, ek is glad nie spyt ek het gekom nie. Hierdie stad het my weer laat glimlag oor die klein dingetjies in die lewe soos die weer, bome en brandewyn. Daar is ‘n sekere iets in Gauteng wat ek nog nooit voorheen teegekom het nie. Ek weet nie eers wat om dit te noem nie of hoe om dit aan julle te verduidelik nie. Dis maar hoe jy is as jy ‘n nuwe liefde het. Jy hou van daai goedjies wat ander mense dink stupid is, en as jy ooit eendag uit daardie fase is, is dit die goed wat jou die meeste afpis. Die mense hier dink anders, hulle doen dinge anders, hulle lewe anders. Elke nou en dan is anders goed vir die siel.

Partydae voel ek soos ‘n CA kar in ‘n besige straat in Hatfield, asof die massas maklik kan agterkom ek is van die Kaap, maar ek wonder heeltyd, pla dit hulle? Het hulle ‘n problem met die feit dat daar mense is wat op ‘n weeklikse basis see toe gaan of gaan wyntoer, mense wat nie vasgevang is in die ratrace nie? Kyk hulle neer op Kapenaars? Dalk moet ek net Pretoria in die oë kyk en sê:”baby, jy verbeel jouself, ek mis glad nie moederstad nie.” Jok maak alles beter.

Ja ex-meisies is ‘n pyn in die gat. Jy dra hulle saam jou soos ‘n lelike moesie op jou ken, maar erens langs die pad besef jy om nie te worry nie, en om nie oor hulle te praat nie. In jou kop vergelyk jy nog die twee, al weet jy jy moet nie. Dis nie lank nie dan vergeet jy alles van die verlede en al waaran jy kan dink is hoe great Sarie se tiete is. Sarie het baie great kwaliteite wat Wilma nog nie eens van gehoor het nie! Vanaand klim ek saam Pretoria in die bed, en sy beter lekker wees, solank ek haar nie Kaapstad noem nie.

--Phillip Berg
Nog in 'n donderstorm in Pretoria

PS: As jy hou waarvan jy lees, as jy enigsins genot vind uit my blog, dan vra ek jou mooi, asb vertel jou vriende daarvan. Dankie