Sunday, 22 April 2012

Vat die Karoo saam met jou (deel 1)

“Do you have any sharp objects?”. Dit is een van daardie vrae wat jy antwoord sonder om daaroor te dink, jy sit sommer jou mond op auto-pilot. Net soos wanneer iemand jou vra hoeveel suiker jy wil hê, dan sonder om eers te besef jy kry koffie antwoord jy: “twee asseblief”. Wie dra skerp voorwerpe saam hulle? Lyk ek vir die vrou soos ‘n rekkie? Terwyl ek dink aan ‘n droë comeback op hierdie verpligte vraag besef ek, shit, ek het ‘n skroewedraaier in my rugsak. Ja ek wil mos my rekenaar oopmaak van tyd tot tyd. “Yes I do” antwoord ek die tannie by die Kulula check-in en sy lyk nie baie gelukkig met my nie. Ek haal maar die groen en swart skroewedraaier uit en sit hom in my tas, want ek is nie lus vir moeilikheid nie, ek wil nou net by die huis uitkom.
Hier is ek alweer op die lughawe en dit voel anders as 2 maande tevore toe ek oppad Pretoria toe was. Die stres van ‘n nuwe stad infiltreer is weg en ek is baie rustiger. Nou voel ek soos ‘n 10-jarige laaitie voor kersfees wat weet sy ouers het net vir hom nuwe sokkies gekry. Dis oraait, ek kort sokkies. Ek het vanoggend die Gautrain gevat en hierdie is die eerste pitt stop op my reis. My kamera is soos altyd by my en my rugsak is gepak met boeke wat ek seker nie eers op die vliegtuig gaan oopmaak nie. Vir eers los ek die Jakarandas en die snorre van Pretoria agter, net vir ‘n kort rukkie, net vir ‘n week. Al vlieg ek vandag Kaapstad toe, is dit maar net nog ‘n pitt stop oppad Oudtshoorn toe, die plek waar ek leer praat, tel en vloek het. Die dorp waar ek groot geraak het.
Ek was 8 weke laas by die huis, daardie reënerige Woensdag toe ek en my ma in die kar geklim het oppad na Goerge se lughawe toe. Dis nie eintlik so lank terug nie, maar dis ‘n lang tyd sonder skaapvleis. Ek hou van huis toe gaan. Dis seker maar net ‘n lui mens soos ek wat dit geniet om in die platteland te gaan lê en fokol doen terwyl jou ouers jou voer en jou wasgoed was. Dit gaan al hoe minder gebeur van nou af, Pretoria is nie te naby aan die Karoo nie, en ek pis nie petrol nie. Nog nie.
Daar sit ‘n ouerige paartjie langs my in ry 6. Dis duidelik dat hulle Johannesburgers is, maar mens sou sweer hulle kom van die platteland af, want hulle is niks gewoond nie. Ek het seker gemaak ek sit by die venster, maar ek kan nie onthou dat ek die oom gevra het om heeltyd oor my te leun en te kyk hoe die weer oor die Vrystaat lyk nie. Ek oorweeg dit om vir my ‘n bier te koop soos die lugwaardin nader beweeg met haar trollie, maar liewers nie. My geld kan beter benut word in gate van die Wes-Kaap waar my “vriende” so graag uithang. Ek gaan drie dae spandeer in die algemene Kaap area voor ek ‘n lift huis toe vang. Ek is bietjie senuweeagtig oor hierdie drie dae, ek is nie meer so drinkfiks soos in die ou dae nie, maar ek weet my pelle is. Soos daardie draak in Super Mario is die Kaap iets wat ek moet verslaan voor ek kan aanbeweeg na saligheid. Dis reg met my, ek kan doen met ‘n uitdaging.
Hier is ek, Kaapfontein. Die plek waar drome begin en aande nooit eindig nie. Ek kry my tas met die skroewedraaier in en haal my kamera uit. Hierdie keer gaan ek my pelle afneem by Domestic Arrivals. Net soos 2 maande terug wag niemand vir my by die lughawe nie, net die taxi drivers wat probeer geld maak smile vir my. Lê die fout dalk by my? Vandag gee ek nie eintlik om oor sulke teleurstellings nie, ek is net so verskriklik bly om al my pelle weer te sien. Gelukkig het nie een van hulle verander nie en hulle is nog net soos ek hulle geniet - regte fokops. Ek was nie lank in die provinsie nie toe maak ons al klaar kuier reëlings. Dié manne is dors. In die kaap is almal altyd dors, dis seker iets in die lug. Vrydagaand Stellenbosch, laat weet vir almal wat jy ken, soos altyd. Dis die dag voor ek Oudtshoorn toe wil gaan, besef ek. Dis oraait, dit gee my 4 ure op die langpad om van ‘n potensiële babelas ontslae te raak en dan hopelik mooi te lyk voor die ouers.
As jy terug keer na ‘n plek na ‘n lang afwesigheid voel dit nie eintlik of jy ooit weg was nie. Tafelberg lyk nog dieselfde, Bellville ruik nog dieselfde en Stellenbosch proe ook nog presies dieselfde. Die goeie ou kaap dink ek. Soos meeste kinders van die Wes-Kaap het ek na matriek die wynlande aangedurf om ‘n graad te probeer kry. Dit het makliker geklink as wat dit werklik is, of so hoor ek, ek het nooit klaar gemaak nie. Ek onthou toe ek eerstejaar op Stellenbosch aankom en die ouens in die koshuis uitvind van waar af ek kom was daar altyd twee goed wat hulle wou weet: Hoe baie volstruise my pa besit en of daar plek is by ons huis vir ‘n tent tydens die KKNK.
Dit is lekker om terug te wees, my laaste Pitt stop voor die huis. Ek kyk na die bome en die berge wat toesig hou oor die studente, maar ek kan steeds nie vir Simon sien nie. Kom ons gaan uit en ontmoet mense wie se name ons nooit gaan onthou nie, klink na pret. Net voor ek en my vriende die pad na die onderdorp vat hoor ek my lift Oudtshoorn toe ry die volgende oggend al 06:30. Ag naat, Johan. Om te sê ek is nie ‘n oggend mens nie is ‘n understatement, ek is skaars ‘n middag mens. Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie.
Soos ons die eerste biere afsluk by Bohemia, kyk ek om my en besef hoe akkuraat Koos Kombuis hierdie dorp omgesom het. Die lewe hier is werklik ‘n bring en braai. Verantwoordelikvryfontein, dit moes eintlik Stellenbosch se naam gewees het. Bliksem ek is darm maar lief vir die dorp en al die lewenservaring wat hy so vrygeweig vir jou bied. Hier tussen halwe biere, semi dronk meisies en amper goeie vriende het ek al baie geleer van die lewe. Daar is ‘n rede hoekom die groot Man daar bo besluit het om my hier weg te kry, en ek dink ek weet hoekom. Dinge kan nie altyd so lekker gaan nie. Stellenbosch is vir meeste mense ‘n pitt stop van die lewe - ‘n lekker plek waar jy tussen skool en volwassenheid jouself heeltemal kan verloor sonder dat jy ooit wegraak. Vanaand is dit net ‘n oornag plek, ‘n pitt stop waar ek weer kan nostalgies raak saam met my vriende en maak asof dit nogsteeds die ou dae is. Stellenbosch was nog altyd my gunsteling one night stand.
Dis 06:15 en darm het ek nie te diep geslaap nie, so dis maklik om op te staan. Kom ons gaan huis toe. Die stad en sy groot verskeidenheid van alles is baie gerieflik en hierdie afgelope drie dae was baie lekker, maar ek is baie dankbaar dat ek in die platteland groot geraak het en dat ek nou ‘n rustige week in die Klein Karoo kan spandeer. Daar is iets in die vaal droë grond en fucked-up bossies wat my hart al lank terug gesteel het. En ek mis dit vreeslik. Mense van die kaap kan nie glo ek voel so oor die plek nie, maar ek is net te bly ek hoef nie dit met hulle te deel nie. Hoe kan ek nie van Oudtshoorn hou nie? Dis die plek waar ek die eerste keer verlief was en dis die plek waar my hart vir die eerste keer gebreek is. Die die plek waar ek nooit leer spel het nie, al moes ek. Nêrens anders in die wêreld is die sonsondergang so mooi nie. Mense sal stry en sê in die kaap en in die bosveld en waarokal sak die son net so mooi, maar in die Klein Karoo het die mense genoeg tyd om dit elke dag te waardeer.
Enige plattelandse dorpie is soos ‘n vrek lelike kind met minimale talente, net ‘n ma kan lief wees daarvoor. Jy moes hier groot geraak het, gesweet het in die wiskunde klas as dit 50 grade is, verveeld gewees het op ‘n Vrydagaand, skaam gekry het as die hele gemeenskap van jou skandes weet om die plek te waardeer. Jy moes die pyne van die dorp vir ‘n klompie jare saam jou dra om werklik daar te kan staan en te sê jy geniet dit. Ek en Oudtshoorn is al deur baie saam en ek raak redelik befok as iemand iets sleg sê van my tuisdorp.
Dis 06:30 en ek klim in Jaco Schoeman se kar. Hy is ‘n ou skoolpel van my en sy familie boer by die begin van die Baviaanskloof, aan Willowmore se kant. Goeie mense. Ek sê vir hom hy sal sonder my geselskap moet bestuur aangesien ek drie ure terug gaan slaap het. Die pad tussen die kaap en Oudtshoorn is die R62, en soos meeste Oudtshoorn mense het ek daardie roete al so baie gery, ek het dit al oorweeg om die bossies langs die pad name te gee. Bliksem ek voel sleg. Daardie tequila was ‘n slegte idee, dankie Dirk. Soos ek dink aan die mooi meisies van die vorige aand wat ek nie kon kry nie raak ek aan die slaap.

Na 4 ure se ry en 3 ure se slaap kom ons by die huis aan. Goeie ou Oudtshoorn noord, die tannie oorkant die straat is besig om gras te sny. Tipiese Saterdag hier. Ek stap die huis binne, my kat is daar om my te groet. Die plek is baie kouer as Pretoria, en ek dog dis April. My ma kom omhels my en vra my hoe ons gery het. Kak vraag dink ek. Dadelik voel ek tuis en haal een van die boeke uit my rugsak uit. Nou het ek tyd om te lees. Perfekte pitt stop vir ‘n week, behalwe vir die feit dat dit KKNK is. Shit ek het amper vergeet. Hierdie is my 18de agtereenvolgende kunstefees, ja ek nog nie een gemis nie. So van roosterkoeke, kak afrikaanse musiek en dronk tannies kan jy my niks vertel nie…
…Word vervolg…
--Phillip Berg

Wednesday, 4 April 2012

Maak jou seatbelt vas

Daar is darm min goed so irriterend soos daai geluid wat ‘n kar maak as jy nie jou veiligheidsgordel vasmaak nie, veral as jy laat is. Soms moet jy nog sukkel met ‘n hardkoppige gordel wat heeltyd vashak as jy hom vat. Jy weet jy moet hom rustig trek, maar omdat die kar beep beep gryp jy hom met geweld soos daardie laaste chip by ‘n braai, en dit help glad nie. Hoe meer die ding vashak, hoe meer befok raak jy en hoe harder trek jy. Partydae voel dit mos of die wêreld teen jou is. Almal ken daardie dae, almal kry sulke dae. Ek oorweeg dit om maar die blerrie gordel te los, maar dan wonder ek wat sal gebeur as die kar vinnig stop en ek deur die windshield trek, as ek ‘n vet stuk glas met my voorkop sou breek. Die idee maak my bang, want na al die jare klou ek nogsteeds vas aan my acting drome. Nee, dis beter om veilig te wees. Uiteindelik kry ek beheer oor die seatbelt, prop hom en sit die musiek harder, niks soos ‘n paar wilde beats soos jy oor die urban jungle toer nie. Al wat nou kort is ‘n bier.
Ek het nie ‘n idee waar ek nou is nie. Lang strate, breë strate, eenrigting strate, weet enige iemand ooit waar hulle is in hierdie stad? Die strate van Pretoria is baie anders as die van die Kaap. In die Wes-Kaap is daar darm berge wat jy as ‘n rigtingwyser kan gebruik as jy verdwaal. Nie dat ek verdwaal het nie, ek bestuur nie eens nie, ek toer net. Adam en die groen Merc waarin ons ry ken die plek darm redelik oraait, hy bly al sy hele lewe lank hier en boonop like hy nog die plek ook. Hy vertel my daar is tot ‘n straat êrens in hierdie stad wat na sy ma vernoem is. Dis nou vir jou ‘n ding! Maar hy weet nie presies waar dit is nie. As jy hier ‘n afdraai mis vat dit jou ‘n rukkie om weer opkoers te kom, maar dis wanneer jy die plek leer ken, as jy verdwaal. Dis lekker om net te sit en te kyk na al die plekke en mense wat ek nie ken nie. Dis nou al langer as ‘n maand wat ek hier is en ek wonder nogsteeds of ek nie dalk ‘n moerse fout gemaak het deur te kom nie.
Adam is my housemate en hy is baie goed vir my. Maak nie saak waarheen hy oppad is nie, die naaste bank of die universiteit se admin gebou, hy nooi my altyd saam sodat ek Pretoria kan sien vanaf sy pa se groen ML. Hy gebruik hierdie voertuig terwyl sy pa in Amerika is vir een of ander werk avontuur. Lekker luuks, ek weet. Ons ry verby plekke wat ek al baie van gehoor het, maar nou vir die eerste keer sien. Niks lyk soos ek gedink het dit sal nie. Adam vertel my iets interessant oor amper elke plek wat verby ons vlieg, hy is ‘n goeie gids en hy laat my vinnig vergeet dat ek ooit gedink het Bellville is oraait. Ek dink hy besef die mense in die Kaap dink nie veel van Pretoria nie, nou probeer hy die plek waar hy groot geraak het se reputasie bietjie help, ‘n hupstoot gee. Hy het al amper die hele stad vir my gewys, even die Square, even Valhalla, even Pretoria-Noord, maar nog nie Centurion nie, want dis nie Pretoria nie, volgens hom.
Ek het Gauteng toe gekom sonder ‘n voertuig. Dis nie ideaal nie, maar dis wat gebeur as jy oor rooi ligte ry, jy verloor jou kar, en so bietjie van jou ouers se liefde. Kom ons wees gou eerlik met mekaar, jou ouers se liefde maak die lewe makliker. Dalk is dit beter dat ek my eerste twee maande hier deurbring sonder wiele, dit mag my dalk net uit die kwaad uit hou, weg van die pooltafels af, weg van KFC af. Ek hou van bestuur, dis lekker. Daardie gevoel wat jy kry as jy die clutch intrap en die rat verander is iets wat ek mis. Dis ‘n pragtige krag wat deur jou are vloei en dit laat almal mos dink hulle is Tom Cruise, en as jy dink jy is Tom Cruise dan kan jy mos enige iets doen. Eintlik is jy nogsteeds die poepol agter die stuurwiel wie se mond oophang en Kurt Darren tunes luister. Ja julle het my reg gehoor, niemand is perfek nie, en dis hoekom ek al 2 karre afgeskryf het, maar ek sal dit nooit op Kurt blameer nie. Gelukkig het ek altwee kere my veiligheidsgordel vas gemaak en my gesig is nog bruikbaar, nes Tom Cruise sin. Ja, dis defnitief beter as ek nie hier bestuur nie, Santam haat my al.
Soos ons deur die strate ry kyk ek rondom my en ek dink, dis mooi hier, my oë sukkel glad nie as ek kyk na hoe Pretoria aanmekaar gesit is nie. Die jakarandas wat die pad toe groei laat my voel soos ‘n eerste span rugbyspeler wat deur die tonneltjie hardloop voor dié groot game. Ek raak sommer opgewonde oor hulle teenwoordigheid. Dit voel my hulle ondersteen my, glo in my, moedig my aan, al weet hulle nie hoekom ek hier is nie of waarheen ek oppad is nie. Ek weet nie eers nie, Adam weet, hy bestuur. Hy het ook sy veiligheidsgordel aan, nie omdat hy ook al 2 karre afgeskryf het nie, maar omdat daardie blerrie beep die kak uit ons irriteer. As ek mooi daaraan dink lyk die jakarandas vir almal dieselfde, maar ek gee nie om dat hulle almal hier ondersteun nie, want almal hier het dit nodig. Adam steek ‘n sigaret aan en draai die ruit bietjie oop. ‘n Jack Parow song kom op, ek sit die musiek harder, want jis daai ou rap lekker.
Baie mense het my al gevra hoekom ek Gauteng toe gekom het dan wil ek nie eintlik hulle antwoord nie, want ek weet nie hoe nie. Ek het Adam op skool ontmoet, op die internet van alle plekke en nie eintlik onder vriendelike omstandighede nie. Laas jaar het ek hom weer raak geloop, en toe bied hy my verblyf aan, in Pretoria van alle plekke. Dit was nie ‘n moeilike besluit nie en toe ek weer sien toe werk ek en hy saam, en toe dusver gaan dit baie goed. Ons maak movies, videos, watokal jy dit wil noem en ons is actually nie te sleg nie, as ek nou bietjie kan brag. Soveel talent soos wat ons dink ons het help nie te veel as jy jonk is nie, nie in hierdie land nie. Lankal het ons het besef as jy nog nie die regte persoon se dogter na ‘n matriekafskeid geneem het nie gaan jy sukkel, as jy weet wat ek bedoel. Maar ons hou nog uit, nie een van ons sal sommer gou opgee en ‘n onderwyser of ‘n plumber raak net om bier en sigarette op die tafel te sit nie.
Soos ons luck nou maar is kry ons elke robot rooi. Nes die Kaap het Pretoria ook heelwat snaakse figure wat by verkeersligte uithang, maar hier is hulle bietjie anders. Hulle dra Bulls truie en praat met jou asof julle langs mekaar gesit in standerd 2. Hoe meer jy sê jy wil nie ‘n paspoort houer of 500 swart sakke hê nie hoe meer begin hulle met jou emosies te speel. In Gauteng wil hulle hê jy moet hulle jammer kry, in die Kaap irriteer hulle jou tot jy hulle betaal om te loop. Adam is nice, hy gee hulle gewoonlik iets. Ek aan die ander kant kan nie minder omgee oor die bedelaars nie, ek hou my kleingeld vir pool games. Elke keer as ek hulle sien is daar iets binne my wat sê: “maak net seker jy eindig nie eendag so op nie”. Bliksem, ek sal ‘n kak boemelaar maak, ek het ‘n regte moer-my-gesiggie, niemand sal my enige iets gee nie. Hierdie movie ding beter uitwerk! Ek kyk na die mense in die ander karre, almal lyk so rustig, niemand is kwaai nie, almal het hul veiligheidsgordels aan. Die lig raak groen en ons ry verder. Die Jack Parow tunes het gestop, dis nou Blink se beurt om ons wakker te hou.
Die middestad van Pretoria voel soos Afrika, maar nie die tipe Afrika wat jy op National Geographic sal sien nie. Wat my verbaas is als klink afikaans in die sake sentraal van ons hoofstad maar hier is nie ‘n teken dat hier enige afrikaans rond beweeg nie. Hierdie stad het duidelik baie forgotten glory en ek sal graag wou sien hoe dit hier gelyk het in die 70's. Sekere mense sal vir jou sê kerkplein is nou maar net ‘n gedagte van wat dit altyd was en Paul Kruger kyk nie meer na dieselfde dinge as voorheen nie. As jy mooi kyk lyk dit of oom Paul ook sy seatbelt vasgemaak het. Hy het ook seker verstaan dis beter om veilig as jammer te wees. Dalk het hy ook sy ossewa gerol op die Calitzdorp pad. Ek wonder hoekom het oom Paul en die ander voortrekkers opgetrek? Waarom was hy en sy tjommies kwaad vir die Kaap? Het hy dalk sy goed gepak en getrek vir dieselfde redes as wat ek het? Dalk het hy nes ek besef as jy moet gaan, moet jy fokof.

Na ‘n suksesvolle middag stop ons weer by die huis. Ek maak my seatbelt los, Adam gruip die sixpacks en ek vat die Pick & Pay sakke en ons stap weer die huis binne. “Bier?” vra hy my terwyl ek op die stoep staan en oor Pretoria uitkyk. Ek antwoord ja en vra hom nog vrae oor die stad soos ons die Black Labels geniet. “Hier gaan ons nog baie goed doen” sê hy vir my, “ek is bly jy het gekom”. Ek sien ‘n storm wat in die verte nader beweeg, ons timing was goed. Die storms hier is beter as enige program op kykNet en ek love dit. Die bier klap my alweer vinnig, dalk is dit tog die lugdruk. Dis asof ek skielik besef waaroor alles gaan, die lewe, my werk, my vriende, my liefde. Bier doen dit mos aan ‘n mens. Een oomblik chill jy lekker, volgende oomblik praat jy asof jy ‘n professor is, lekker vol van jouself. Dan die volgende oomblik kan jy niks onthou wat jy sopas gesê het nie. Al wat dan uit jou mond uit kom is: “ons het vergeet om brood te koop”.

-- Phillip Berg

Sunday, 11 March 2012

Pas aan


Jy sien haar, jy glo nie sy is daar nie. Sy sê vir jou iets mooi, jy glo nie dit is waar nie. Sy flirt met ‘n ander ou, nou kan jy nie bedaar nie. Blerrie ex-meisies. Party dae voel dit hulle is net daar om in jou slaai te krap, om jou bloed te laat kook. Ek weet ek raak heel befok as ek my ex sien, en ek weet nooit of dit befok kwaad of befok spyt is nie. Al wat ek weet is, vermy die ex, maak nie saak wat nie moenie met haar kontak maak nie. Daar is redes hoekom dit verby is, vergeet van alles. Partykeer is sy nie eers daar nie dan mors sy met jou.

So ‘n paar jaar terug was ek besig om ‘n meisie te laat val vir my. Vir kopiereg doeleindes kom ons noem haar Sarie. Sarie was great en ek het verskriklik baie gehou van haar en haar lekker ass. Sy het my laat voel soos Brad Pitt en maak nie saak wat ek gedoen het nie, sy het aan my gehang soos 'n mossel in hoogwater. Een aand vat ek haar uit vir ‘n drink, net ‘n lekker rustige drankie sodat sy darm kan weet ek wil saam met haar in die publiek gesien word, dis hoe into haar ek was. Ons gesels heelaand baie lekker, oor alles van musiek tot movies tot kook, maar toe eweskielik begin sy my uitvra oor my ex. Dis nooit lekker vir enige ou nie. Vir kopiereg doeleindes kom ons noem my ex Wilma.

Sarie het geweet daar was ‘n Wilma, en hoe meer sy uitvra hoe vinniger raak sy omgekrap. Sarie maak toe wilde claims dat ek nog nie oor Wilma is nie en ek verseker haar dat ek nie kan minder omgee oor die meisie wat my hart destyds gebreek het nie. Tipies soos vroumense maar is was dit nie lank nie toe was ek diep in die kak, sonder dat ek enige iets gedoen het, alles blerrie Wilma se skuld. Sarie wou nie eers vir my kyk nie. Met my mooiste gesig kyk ek toe Sarie diep in die oë en ek beplan hoe ek vir haar gaan sê:”Sarie, jy verbeel, ek hou niks meer van Wilma nie”. Stadig draai Sarie haar gesig na myne, sy glimlag en ek gooi my line: “Wilma, jy verbeel jou…”. O fok! Dit was soos ‘n atoombom wat val, reg op my toekomsplanne met hierdie meisie en dit laat niks staan nie. Sarie blimsem, nie Wilma nie! Fok tog! Vir ‘n oomblik het ek gedink sy gaan my klap, maar sy het net my hand gelos en geloop. Daar gaan daai hot ass.

Hier sit ek nou 2jaar later op die stoep en kyk oor Pretoria, die plek waar ek nou probeer iets maak van my lewe. Dit lyk mooi, dit lyk groen, baie bome hier. Niks van my ex’s nie. As jy soos ek van ‘n semi-woestyn af kom is hierdie groen een van die mooiste goed wat jou oë kan waarneem, dit en vloedwater. Ek kyk nou nie na ‘n see of ‘n berg of ‘n windpomp nie, maar hierdie uitsig wat ek geniet terwyl ek my koffie en my slap weet-bix afwerk is nogals asemrowend. Ek kan van die Voortrekker monument tot by die Unie gebou sien. Loftus se spreiligte pronk ok daar in die middel en die Telkom toring laat dit lyk of hierdie stad ‘n ereksie het. Soos ek staar na die geboue in die verte mis ek die dae wat ek na die kaap se stad gekyk het vanaf die voet van tafelberg.
"Ek het jou lief soos die Kaap"


Ek is nou al ‘n paar weke in ons land se hoofstad. Dis lekker, ‘n anderste tipe lekker, nie die tipe lekker wat jy op die strand of in ‘n bier sal kry nie. Meer soos daardie tipe lekker wat jy kleintyd in ‘n inkleurboek gevind het met jou 24-kleur potloodstel terwyl jy lag vir die losers wat net 12 kleure het. Dis ‘n lekker wat ek waardeer omdat dit baie eerlik en eenvoudig is. In 2010 was daar berig daar Kaapstad een van die wêreld se top toeriste bestemmings was. Dit het mooi opgesom wat my gepla het van die kaap. Dit is ‘n vakansieplaas wat almal oor die wêreld deel met mekaar, ‘n baie afgewaterde ervaring as jy my vra. Amper al die vriende wat ek al hier gemaak het is Pretoria born and bred en moerse trots op die plek en wat dit is. Hulle is daai tipe mense wat presies vir jou sal kan sê wanneer kerkplein se eerste baksteen gelê was of watter voortrekkers hier agtergebly het, maar vra hulle wie is die voorry van die bloubulle dan het hulle nie ‘n clue nie. Dit maak nie saak nie, hulle weet meer van Pretoria as wat Kapenaars weet van die Kaap.

As hulle so praat van die plek en sy geskiedenis voel die Wes-Kaap en alles wat ek ken donners ver weg en ek kan nog nie besluit of ek die berge en die colourds mis of nie. Ek kan nie help om hierdie stad heeltyd te vergelyk met Kaapstad nie. Natuurlik hou die Pretoria mense nie daarvan as ek heeltyd so oor my ex-stad praat nie. “Kom oor dit, bra” sal hulle sê en vir my ‘n skewe kyk gee asof dit my idee was om hierdie plek se naam te verander na Tshwane. Ek dink nie hulle verstaan dat die kaap my huis was vir ‘n lang tyd en dat dit moeilik was vir my om dit te agter te laat nie.

Dit voel of ek onlangs met my meisie van drie jaar opgebreek het en toe binnekort daarna ‘n nuwe liefde gevind het, so heel skelm. Ek was nog nooit goed met verhoudings nie. Drie jaar is lank, daar was goeie tye, daar was slegte tye. Party dae wonder ek of Kaapstad nog aan my dink soos ek aan haar dink, of sy dalk wonder hoe dinge sou uitdraai as ek haar nooit gelos het nie. Dis snaaks hoe jy na die tyd as als verby is maklik foute kan sien wat jy nie kon sien toe jy daar was nie. Ek gaan nie jok nie, ek en Pretoria is nou saam en die plek is great, maar ek voel nog iets vir die goeie ou Kaap. Dis dalk ‘n problem, Sarie en Wilma was nog nooit eintlik vriende nie.  

Pretoria is baie anders as wat ek verwag het en ek het nog nie een keer vir Steve Hofmeyr gewaar nie. Ek het gedink hy gaan oorals wees. Natuurlik het ek hierheen gekom met voorafgestelde idees oor hoe die plek gaan wees, en baie van daardie idees is waar en ander is weer onwaar. Kom ons begin by die lugdruk, ek dink dis ‘n pot stront. Ja Gauteng is meer is ‘n kilometer hoër as die see, maar vandat ek hier is het my lynskoppe nog nie verder as gewoonlik getrek nie en ek het nog nie vinnger uitasem geraak as ek gaan stap, ‘n frikkie vang of Noot vir Noot kyk nie. Teleurgesteld is ‘n understatement! Nog ‘n ding wat ‘n ouvrou storie is, is die sogenaamde Pretoria aksent. Van al die mense wat ek hier ontmoet oorrond niemand hul klinkers nie, nie eers die aptekers nie. Almal praat soos normale mense en almal kom redelik intelligent voor. Having said that ek was nog nie in Pretoria-Noord nie, daar mag dit dalk anders wees.

As ek die verskil tussen die Kaap en Gauteng kan probeer verduidelik gaan ek dit doen met braai as my voorbeeld. Die Kapenaar sal ‘n groot vuur maak, wag tot dit uitgebrand het en dan amper ‘n halwe slaghuis braai net soos wat hy dit wil hê. Die Gauteng persoon sal vining ‘n paar stukkies charcoal aan die brand kry en dan ‘n worsie gaar maak en eet. As die Kapenaar ooit vir die Gautenger vra hoekom gebruik hy charcoal gebruik en nie hout nie sal hy spoedig antwoord: ”Dis baie vinniger”.

Een ding kan ek verseker sê, ek is glad nie spyt ek het gekom nie. Hierdie stad het my weer laat glimlag oor die klein dingetjies in die lewe soos die weer, bome en brandewyn. Daar is ‘n sekere iets in Gauteng wat ek nog nooit voorheen teegekom het nie. Ek weet nie eers wat om dit te noem nie of hoe om dit aan julle te verduidelik nie. Dis maar hoe jy is as jy ‘n nuwe liefde het. Jy hou van daai goedjies wat ander mense dink stupid is, en as jy ooit eendag uit daardie fase is, is dit die goed wat jou die meeste afpis. Die mense hier dink anders, hulle doen dinge anders, hulle lewe anders. Elke nou en dan is anders goed vir die siel.

Partydae voel ek soos ‘n CA kar in ‘n besige straat in Hatfield, asof die massas maklik kan agterkom ek is van die Kaap, maar ek wonder heeltyd, pla dit hulle? Het hulle ‘n problem met die feit dat daar mense is wat op ‘n weeklikse basis see toe gaan of gaan wyntoer, mense wat nie vasgevang is in die ratrace nie? Kyk hulle neer op Kapenaars? Dalk moet ek net Pretoria in die oë kyk en sê:”baby, jy verbeel jouself, ek mis glad nie moederstad nie.” Jok maak alles beter.

Ja ex-meisies is ‘n pyn in die gat. Jy dra hulle saam jou soos ‘n lelike moesie op jou ken, maar erens langs die pad besef jy om nie te worry nie, en om nie oor hulle te praat nie. In jou kop vergelyk jy nog die twee, al weet jy jy moet nie. Dis nie lank nie dan vergeet jy alles van die verlede en al waaran jy kan dink is hoe great Sarie se tiete is. Sarie het baie great kwaliteite wat Wilma nog nie eens van gehoor het nie! Vanaand klim ek saam Pretoria in die bed, en sy beter lekker wees, solank ek haar nie Kaapstad noem nie.

--Phillip Berg
Nog in 'n donderstorm in Pretoria

PS: As jy hou waarvan jy lees, as jy enigsins genot vind uit my blog, dan vra ek jou mooi, asb vertel jou vriende daarvan. Dankie

Sunday, 19 February 2012

Dans met Pretoria


Jy weet daai gevoel wat jy kry as jy langs ‘n dansvloer staan en na al die mense kyk wat rond swaai terwyl jy net ‘n veilige afstand hou, en dan besef jy dat amper almal wat dans lelik of vet is, maar tog geniet hulle hulself baie meer as jy? Daardie gevoel laat mens nogals worry. Op ‘n tweede kyk besef jy dis nie net hulle looks wat hulle in die steek laat nie, maar hulle kan ook nie eintlik dans nie. Meeste van die massas onder die discoligte lyk soos ‘n epileptiese tumble dryer wat probeer yoga doen. Idiots, blerrie idiots. Ek weier om deel te wees van die lafwigheid, ek staan eeder eenkant, veilig. Die prys van daardie pret is te hoog vir my.
Skielik let ek op na my eie bewegings, my kwart-dans. My skouer beweeg so 4cm boontoe elke sekond en my kop hop net asof ek gedurig ja sê. Dis ‘n veiligheids dans, ek kan dit nie opmors nie en niemand kan sê ek probeer nie. Maar die see van jeugdiges hier voor my smile baie breer as ek. Dalk is ek jaloers op dié mense, op hul vermoë om nie om te gee nie, net te laat gaan en jou liggaam oor te gee aan die kak remixes van die DJ. Hier staan ek nou op die grens tussen twee wêrelde, op die punt van ‘n dansvloer. Aan my een kant is daar ‘n rustige aand, sonder risiko’s of verassings. Aan die ander kant is daar ‘n dansvloer, vol vet mense wat hulself geniet, en sweet, maar meestal hulself geniet. Soos baie aande tevore is die vraag presies dieselfde: “moet ek gaan dans of nie?”. Ek vermy die vraag en vat ‘n sluk van my bier
xxxxx
Ek maak my veiligheidsgordel los. As ek by die ruit uit kyk sien ek net wolke. Just my luck. Eintlik sou ek wou sien hoe lyk die oos-kaap van bo af, maar wie is ek om selfsugtug te wees? Ons land kort ALTYD reën. Hierdie is ‘n ideale geleentheid om ‘n paar hoofstukke van my nuwe boek deur te werk.  Gelukkig sit daar niemand langs my nie, want dié boek grens baie naby aan literotica. Ek wil net noem dat ek nie dit geweet het voor ek die boek gekoop het nie, maar soos almal hou ek ook van verassings. Vir ‘n oomblik sit ek die boek neer, vat ‘n sluk van my bier en besef: “shit, ek is oppad Gauteng toe, dis nogals heavy”.
foto geneem deur die meester, Michael Ellis
Ek was nog nooit langer as ‘n dag in Gauteng nie, maar hier sit ek op vlug nr MN902 van George na Johannesburg met elke onderbroek wat ek besit oppad na ‘n nuwe wereld toe, ‘n nuwe lewe. Vir die eerste keer kom ek agter dat ek alles net so agter los, ek gaan nie my kat gou weer sien nie. Wow, ek het nou nie ‘n ring in my sak nie, maar is hierdie dalk soos wat Frodo gevoel het? Seker nie, hy het nie bier gehad nie, ook nie so baie onderbroeke soos ek nie. Hierdie boek help baie, dit eet die minute weg en help dat ek minder worry of ek binnekort die pretoria aksent gaan kry.
Ek kan proë die bier gaan na my kop toe en ek dink terug aan Nomvember laas jaar toe ek die groot lewenskeuse gemaak het om Gauteng toe te verhuis. Soos ek dit kan onthou was dit ‘n saterdagaand. Ek het ‘n teorie dat daar niks goed gebeur op saterdaeaande nie, tensy jy by die huis bly, braai en rugby kyk. Dis dalk omdat jy gewoonlik met hoë verwagtinge nogsteeds op vrydae se momentum ry en op die harde manier leer niks moet forseer word nie. Hierdie spesifieke saterdag was anders. Ek dink ek het dalk ‘n das gedra, en dink nie eers daar was rugby om te kyk nie, maar erens tussen al die biere en pool games het ek ‘n keuse gemaak. Mense het al baie drastiese besluite gemaak as alcohol en gatvol gemeng word. Teen ‘n kasregister en ‘n taai barcounter het ek besluit ek trek pretoria toe.
Vir die wat my nie ken nie, ek is van die wes-kaap, nie van die kaap nie, van die wes-kaap, en ek was nog nooit voorheen in pretoria nie. Die televisie, koerante en my snob kaap vriende het veroorsaak dat ek altyd gedink het niemand het al ooit iets verloor in pretoria nie, nie eers die voortrekkers nie. Die plek het nog altyd te rof geklink vir my: snor city, P-town, die plek waar Bakkies Botha aanbid word en waar barfights so goed is soos ‘n handskud. Shit, dis nou te laat om uit te chicken.
Die tannie oor die interkom sê ek moet my veiligheidsgordel vas maak, ons gaan binnekort land. Hier is dit nou, Gauteng, die land van geld en mense wat Hartenbos oorneem in desembers. Tenminste love ek lughawens en OR Tambo stel nooit teleur nie. As jy soos ek arm groot geraak het laat die baggage claim area jou voel soos Bill Gates of teminste Johan Stemmet. Ek kry my sakke en haal my kamera uit sodat ek ‘n foto kan neem van die ouens wat my kom optel soos ek arriveer, hierdie is ‘n groot oomblik en ek gaan nog eendag my kinders hiervan vertel.

Xxxxx
Dit mag dalk net die bier wees wat praat, maar ek begin nou al hoe meer van hierdie DJ se musiek hou, my linkerhand begin al airdrums speel hier langs my. Vir ‘n oomblik voel dit of die strobe lights stadiger flikker as gewoonlik. Soos my oë vir die hoeveelste keer oor die dansvloer scan sien ek ‘n meisie, ‘n mooi meisie. Sy dra ‘n rokkie met blou en wit strepe op wat net genoeg van haar lyf wys om my te laat kyk, maar genoeg weg steek om my te laat wonder. Oulik.  Sy lyk bietjie anders as die res, swaai haar heupe rond bietjie anders as die res. Wie is sy? En hoekom is ek so ongelooflik jags eweskielik? Gelukkig nog nie jags genoeg om die dansvloer aan te durf nie, nee wat, ek bly net hier. Waarheen het my pelle verdwyn? Is daar ‘n rede dat ek eweskielik hier op my eie staan. Bliksems het seker gaan rook, tipies.
Soos ek omdraai om hulle te gaan soek wil ek net vir oulaas na ou strepies rokkie kyk. Waar is sy nou? Te veel vet meisies wat die uitsig blok! Wag wie is daai!? Hello blonde meisie met die stywe jean! Jy mag maar dans! Sy sien dat ek vir haar kyk, sy kyk terug. Die 5 sekondes wat ons oogkantak hou voel langer as die 2ure wat mens gewoonlik in die ry spandeer by binnelandse sake. Sy glimlag, draai om en dans aan, asof sy my nooit gesien het nie. Het ons oomblik dan niks vir haar beteken nie? Eyefuck sy my once! Blerrie teef! Of dalk was dit ‘n uitnodiging om haar te join tussen die geluide van ‘n vrydagaand, dalk wil sy my ‘n kans gee. Soos baie aande tevore is die vraag presies dieselfde: “moet ek gaan dans of nie?”. Nie nou nie, my bier is nog lank nie klaar nie.      
xxxx
Die ouens saam wie ek hierdie jaar gaan bly is nogals ‘n paar agtermekaar kerels. Hulle is verantwoordelik dat ek geskuif het van die kaap tot pretoria. Ek het een van hulle ontmoet oor die internet en die ander een in ‘n bar, ek het die shots gekoop. Toevallig was dit ook ‘n saterdagaand. Dis was nie lank nie toe begin hulle te praat oor die blink toekoms van pretoria, van hoe dit die stad is met die meeste potensiaal wat binnekort homself gaan bewys. “Dit gaan nie oor die plek verander nie”, sê hulle vir my, “dit gaan oor Pretoria te verbeter en op te bou as ‘n stad waar jong mense die kans het om hulself uit te leef en waarvoor hulle lief is. Basies werk ons aan pretoria se identiteit waarop die res van die land moet jaloers wees”. Wat!? Daar is mense wat trots is op Tswhane? Om heeltemal eerlik te wees met julle, ek het daai tyd gewonder wat rook hierdie ouens. In die kaap geniet ons goeie mense, goeie rugby en goeie wyn. So hoekom wil iemand in Pretoria wees?
Hulle noem toe vir my dat ek moet optrek Pretoria toe, dinge is aan die gebeur daar, apparently sal ek dit like. “Dis nie so maklik nie”, noem ek vir hulle, “dis nie net van oppak en trek nie. Dis oor ‘n 1000km, ek ken niemand daar nie, en ek kan ook nie baklei nie.” Al was die bier daardie aand nie genoeg nie, die saadjie was geplant en die saterdag daarna was die besluit geneem.
Ek stap met my 4 sakke en kamera domestic arrivals B se wag area binne. Niemand nie. Ek kyk op die sitplekke. Niemand nie. Ek stap bietjie rond, maak seker ek is op die regte plek. Niemand nie. Jis dankie ouens. Nooi my op Gauteng toe, belowe my die wêreld net om my alleen by die lugahwe te laat staan! Ek kyk weer rond. Niemand nie. Tipies Gauteng dink ek by myself, almal worry net oor hulself, survival of the fittest! Ek sit maar my lens cap terug op my kamera, ek sal hulle seker moet bel. Iemand sit hul hand op my skouer. "Welkom in gauteng bra!" groet my nuwe housemates my. Ek kan nie onthou wanneer laas ek mense so groot sien smile het om my te sien nie, dis nou mense wat nie my ouers is nie. Dalk gaan die pretoria plek nie te bad wees nie.


'n sekere Mnr. Heyns wat my kom optel by die lughawe
Ek klim in die kar, hulle vra my wat ek wil doen. Natuurlik weet ek nie en sê hulle moet my die plek wys. Ons ry verby groot geboue, helder ligte van besighede wat tot laataand skyn. Een ding kan jy verseker sê oor Gauteng, hierdie mense is nie hier om vakansie te hou nie. Een gedagte bly swem in my brein, hierdie is ‘n my groot kans, alles of niks. Op die backseat van ‘n silwer Merc wat laataand oor die snelweg ry besef ek hoe groot hierdie geleentheid is. Soos baie aande tevore is die vraag presies dieselfde: “moet ek gaan dans of nie?”. Ag fokkit. Speel die musiek. Sit dit harder. Kom ons dans met Pretoria.      
 --Phillip Berg