Thursday 14 June 2012

Pasop vir die flerries

Aan die anderkant van die bar staan daar ‘n donkerkop meisie. Beeldskoon. Net so duskant die cokemasjien en voor die ou met die gips om die arm is sy besig om iets te bestel by die oudtse barman wat ek al ooit gesien het. Hunters Extreme lyk dit my. Haar stywe pers toppie en los hare sê vir my sy is nie hier om chippies te koop nie. Sy het ‘n vriendin langs haar, maar dié lyk soos Tuks se gewigstoot kampioen. Hoekom het mooi meisies altyd ‘n onder gemiddelde maatjie by hulle? Dis iets waaroor ek al lankal wonder. Dis seker nie mooi om so te staar nie, maar na daardie vorige tequila gee ek nie meer om nie, sy is net te mooi. Die lekkerste boudjies, asof sy in ‘n Suid-Amerikaanse volleyball span speel.  Dalk moet ek gaan hallo sê? Die manier wat sy haar geld tel laat my glo ek staan ‘n kans. Ek sluk die laaste bietjie van my draught en beweeg nader. Watse pickup line sal ek gebruik? Maak nie saak nie, ek skiet maar uit die vuis uit. By die cokemasjien vang my oog die grootste ou in die plek en hy is ook oppad na hierdie pragtige meisie. Hy dra wit skoene en ‘n geel golf hemp. Sy groet hom met ‘n breë glimlag. Is dit die tipe kêrel waarin sy in belangstel? Nee wat, dan is sy nie vir my nie. Ek draai om en loop na die pooltafels toe, hier is baie ander katte.
Nog ‘n aand uit, nog ‘n paar buffels wat uit my beursie gaan ontsnap. Ek het destyds in die Kaap gehoor Pretoria gaan goedkoop wees, maar al wat dit beteken is dat ek nou die duurder brandewyn kies. Dis naweek, en die tendense deesdae is om te duik. So hier is ons, Hatfield Square, gewapen met hormone en skoene met veters, reg om te duik. Ek het net genoeg moeite met my hare gedoen laat dit lyk asof ek nie moeite gedoen het nie. Daar word beweer ‘n man jag in die veld, maar nie vanaand nie. Ja, ons gaan vanaand bietjie kuier, bietjie kak praat en bietjie pool speel, maar ons is eintlik hier om te jag. Julle weet hoe dit werk, om dames te kry en te verlei en dan vir hulle mooi stories van die verlede te vertel tot hulle glo alles gaan okey wees. Dit mag dalk maklik klink, maar dit is nie, of nie vir my nie - nie eens in die Square nie.
Ons almal het talente. Party mense kan ver spoeg en ander kan die vierkantswortel van Pi uitwerk sonder ‘n sakrekenaar. “Meisies kry” is nou nie ‘n item waaraan ek by die Olimpiese spele sal deelneem nie, ek sal nie eens die SWD span maak nie. Die skoner geslag was nog altyd vir my ‘n dilemma. Dis ‘n probleem wat eers ‘n probleem geraak het toe ek Universiteit toe gegaan het. Eweskielik moes ek leer hoe om die game te speel, want blykbaar hou almal telling sonder dat ek ooit agtergekom het. Soos enige beginner het ek destyds in die laer ligas begin. Dronk meisies, vet meisies, engelse meisies. Enige iets vir ‘n bietjie ervaring. ‘n Goeie vriend het al vir my gesê dat elke man eers al die drake moet dood steek voor hy by die prinses kan uitkom. Sekere ouens kan net na ‘n meisie stap en hello sê dan raak haar knieë lam, die res van ons moet meer moeite insit en selfs leeuns vertel.
Soos die jare aangestap het in die Kaap het dinge baie beter geraak en ek het my skaamgeid uiteindelik afgeskud. Elke aand uit het ek meer ervaring opgedoen en dit was nie lank nie toe was my selfvertroue genoeg dat ek met die trofee meisies begin praat het. Vir ‘n slag kon ek hoër mik as net ‘n one night stand en dalk nog hoop om in ‘n verhouding op te eindig. Die groot geheim om ‘n meisie te laat glimlag: Brandewyn en goue Tequila. Daardie twee doepas kon my goed laat doen wat Nicholis Louw nie eers oor sal sing nie. Soos ek dit kan onthou was dit tydens ‘n somersaand in Plett toe ek besef het hoe noodsaaklik hierdie drankies in my jagtog na ‘n aangename dame was. Daardie aand het ek ‘n meisie laat glimlag soos nog nooit van tevore nie. Sy was blond en was verskriklik sexy. Haar vriende het haar Snoekie genoem. Ek het vir haar gesê my naam is Gavin.  Ek wonder hoe gaan dit deesdae met haar.
Net toe ek uitgewerk het hoe die meisies in die Kaap se koppe werk, het ek Pretoria toe getrek en eweskielik het alles vir my  soos ‘n wegwedstryd gevoel. Hier bo is dit helemal ‘n ander game en ek weet nog nie of dit moeiliker of makliker is nie. Brandewyn en tequila het ook nie meer dieselfde impak as tevore nie. Dalk raak ek net oud? Die katte hier klink anders, lyk anders en voel anders. Vir hulle is ek seker die een wat anders is. Hulle kleur hul hare sodat jy moet weet dis gekleur en dra cowgirl boots (ja dis vir my ook weird). Ek kan nie eens onthou watse skoene die meisies in die Kaap gedra het nie. Wat my die meeste pla is dat basies elke mooi meisie hier ‘n fris ou het, en ek wil nie gebliksem word nie. As ek nie eensaam wil wees nie moet ek seker maar aanpas by my omgewing en die tipe man raak wat hierdie meisies wil hê. Wat, moet ek ‘n Pretoria ou word? Dit klink na ‘n groot prys om te betaal vir ‘n bietjie liefde.
Verveeld beweeg ek na die dansvloer toe, opsoek na ‘n bietjie opwinding. Gewoonlik is ek nie iemand wie jy op die dansvloer sal vind nie, maar vanaand pomp die beats net te lekker om nie ‘n bietjie te gaan skud nie. Hierdie DJ is oraait in my boek. In die hoek van my oog sien ek die donkerkoppie van vroeër met die pers toppie. Nogsteeds net so lekker. Sy sit langs die dansvloer met ‘n dubbel brandewyn & coke en haar mollige vriendin. Daar is geen teken van die groot ou met die geel golf hemp of ‘n Hunters extreme nie. Soos sy met haar vriendin praat kom ek agter hierdie meisie het die mooiste glimlag wat ek al ooit gesien het. Al wat ek wil doen is heeltyd vir haar grappies vertel sodat sy nooit sal ophou smile nie. Dalk moet ek weer nader beweeg? Dalk moet ek haar gaan vra of sy saam met my tequila wil gaan drink. Daar is ‘n groot moontlikheid dat hierdie meisie dalk net asemrowend is en dat sy sal lag vir my grappies. Daardie moontlikheid maak my verskriklik opgewonde en bang op dieselfde tyd.
My vriende waarsku my altyd as ek  met ‘n meisies gesels: “moet nou net nie alweer verlief raak nie”. Al vanaf ek kan onthou het ek hierdie probleem gehad waar ek vir amper elke meisie val wat twee keer na my kyk. Ek kan nie die eerste keer onthou wat ek verlief was nie, maar ek weet dit het al baie in my leeftyd gebeur. Daar was ‘n tyd waar as ek nie versigtig was nie, het ek vir twee meisies in een week geval. Dis wat gebeur as jou verbeelding groter as jou selfbeeld is. Ongelukkig moet ek bieg dat meeste van hierdie kere onsuksesvol uitgedraai het.
Elke ou het ‘n “unicorn”, daardie een meisie wat jy enige iets voor sal doen, maar nie kan kry nie. Maak nie saak hoe hard jy probeer nie, jou unicorn bly ‘n wilde dier wat jy nie kan tem nie, dis ontmoontlik. Ek het al baie meer as een unicorn sien weg hardloop van my af en dis glad nie lekker nie.  Dis baie kak. Daar was die unicorn van Bloemfontein wat saam met my die sonopkoms op Jeffrey’s baai se strand gekyk het. En die twee Franse modelle wat coke gesnuif het in die 5-ster Hotel. En moenie vergeet van die Duitser met die lekker tiete wat my elke dag gesms het. In my agterkop swem daar nogsteeds herinneringe van hierdie meisies en die goeie tye wat ek met hulle gedeel het. As ek net van julle kon vergeet. Ek is nou gatvol om hulle op facebook te stalk en te wonder hoe dinge dalk anders kon gewees het. Dis nou hoogtyd dat ek “die een” kry.
Dié Unicorn
As jy, soos ek, voor die televisie groot geraak het dan het jou verbeelding jou laat glo dat jy eendag gaan opstaan, jou daaglikse akitiwiteite benader en sonder enige waarskuwing die meisie van jou drome ontmoet. So maklik. Dis goed en wel om so ‘n romantiese uitkyk oor jou toekoms te hê, maar na die afgelope paar jaar het ek besef ek is nie so gelukkig nie. Geen Meg Ryan look-a-like sal ooit haar sleutels op die barcounter vergeet sodat ek dit vir haar kan terug vat nie en ek twyfel  ook of ek ooit in die nabye toekoms verby ‘n Megan Fox met ‘n papwiel gaan ry. Dit werk net nie so nie. Ongelukkig moet ek nou maar Dropzone toe gaan en dronk raak om ‘n kans te staan. As die lewe net soos die movies was sou ek nou nie hierdie probleem gehad het nie. Een ding wat ek al geweet het toe ek nog in die Kaap gebly is dat ek seker nie my trouvrou in Dropzone sal ontmoet nie.
Wie weet, dalk is die donkerkop met die pers toppie anders. Daar is dalk net ‘n kans dat ek vanaand hierdie meisie se knië lam maak sonder dat ek vir haar hoef te jok. Erêns in die toekoms sit ek en sy dalk saam op ‘n leerbank terwyl ons stry oor wie die coolste karakter in Modern Family is. Ek besef ek sal moet met haar gaan praat en eweskielik raak ek verskriklik opgewonde oor daardie moontlikheid. In my beursie het ek darm nog een buffel oor.  Dis genoeg vir twee tequilas en twee dubbels. Net wat ek nodig het. My vriende dans nog, ek beweeg nader. Hopelik het sy nie ‘n ou nie.
Sy sien my soos ek nader loop. Ons maak oog kontak. Haar vriendin kyk vir my asof ek hulle gaan vra om geld vir ‘n weeshuis te skenk. Voor ek enige iets kon sê begin die donkerkop te praat.
“Is jy nie die dude met die blog wat so baie spelfoute in het nie?” vra sy my.
Daar bowl sy ‘n googly. Ek slaan ‘n blank. Niks woorde kom uit my mond uit nie. Voor ek aan ‘n goeie comeback kan dink praat sy alweer.
“Dit lyk my jy kort ‘n tequila”  

--Phillip Berg

No comments:

Post a Comment